Voer kan ’n stressor word as daar nie genoeg is nie, dit buite bereik is, daar te veel kompetisie onder mekaar vir die voer is, die voer te fyn of grof is of te hoog in sout is. Enige van hierdie faktore sal ’n negatiewe impak op die voer inname hê, wat veroorsaak dat voëls minder energie het om siektes af te weer. Muwwerige voer bevat ook giftige stowwe wat die immuniteit van voëls kan onderdruk.
Dieselfde geld vir wanneer die voëls nie genoeg water het nie, of as die water te warm of van swak gehalte is. Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging sal dehidrasie nie net spanning veroorsaak nie, maar ook die asemhalingskanale van voëls uitdroog, wat die penetrasie van siekte draende organismes vergemaklik. Vuil water is ook ’n bedreiging aangesien dit ’n groot verskeidenheid siekte draende organismes kan bevat, asook bakterieë wat die immuunstelsel kan verswak.
Beligting kan ’n stressor word wanneer voëls nie genoeg donker tyd het om te rus nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie moet voëls ook genoeg tyd kry om aan te pas by die oorskakeling in daglengte-manipulasies gedurende die verskillende stadiums van produksie, asook tydens die daaglikse oorskakeling van donker na lig en lig tot donker. Beligting moet eweredig versprei word, met geen donker kolle tussenin nie, om sodoende oorbevolking in helder verligte gebiede te voorkom.
Klimaatstoestande en luggehalte kan ook ’n uitdaging wees. Dit kan raadsaam wees om rasse te kies wat beter presteer onder warm klimaatstoestande, soos sommige van die inheemse rasse of Kaalnekke as die voëls buite in ’n warm gebied aangehou word. Daar moet dus ekstra sorg gedra word om te verseker dat die voëls toegang het tot genoeg skaduwee en water en om te verhoed dat hitte ’n negatiewe impak op die voer inname het.
Koue-stres het ’n negatiewe uitwerking op die voëls se gesondheid, want dit veroorsaak dat voëls meer energie nodig het om warm te bly. ’n Maklike manier om vas te stel of voëls hitte of koue-stres ervaar, is om na hul gedrag te kyk: Voëls wat koud kry, sal saam kloek om mekaar warm te hou. Hulle sal ook meer as gewoonlik eet om vir die energie wat hulle verloor het te vergoed in ’n poging om warm te bly.
Voëls wat aan hitte-stres ly, is geneig om vinnig asem te haal. Hulle sal hul vlerke oplig en wegbeweeg van ander voëls om koel te bly en kan lusteloos raak. Erge hitte-stres kan tot diarree sowel as aanvalle of stuiptrekkings lei.
Wanneer produksie in ’n hoenderhuis plaasvind, kan klimaatbeheer gebruik word om temperature en humiditeit vlakke te verhoog en te verlaag. Spesiale voorsorg moet geneem word om oor of onder ventilasie te voorkom.
Die geheim is om genoeg ventilasie te verskaf om vog te laat beweeg, maar terselfdertyd om ’n trek te vermy. Swak vog verwydering van die skropgoed sal tot hoër ammoniak vlakke lei en dit veroorsaak weer ’n hoër risiko vir respiratoriese siektes. As die toestande in die hoenderhuis te droog is, is daar ook ’n groter kans dat voëls deur die stof geïrriteer sal word.
Die volgende is tekens wat dui op stres in voëls:
Aggressie en gevegte
Uitval of uitpluk van vere
Aptyt veranderings – voëls eet meer of minder
Lusteloosheid
Gewigsverlies
Afname in eierproduksie
Siektes