Dit is moeiliker om van myte ontslae te raak as van luise, en daarom is die voorkoming van hierdie eksterne parasiet nog belangriker. Myte is kleiner as luise en varieer tussen ‘n tiende van ‘n millimeter tot ‘n millimetre in lengte.
Hulle is dus moeilik om raak te sien, tensy hulle beweeg teen ‘n agtergrond met ‘n kontrasterende kleur. Waar luise ses bene het, het myte en nimfe agt bene en hul larwes het ses. Die meeste spesies is rond soos ‘n bal, met ‘n klein steeltjie waarop die monddele sit.
Die vernaamste drie wat pluimvee affekteer is rooi myte (ook bekend as hoendermyte), noordelike hoendermyte en skurwepootmyte. Rooi myte is gryserig wit of bruin gekleur, maar word helderrooi of blou nadat hulle hulself tot barstens toe vol bloed gedrink het.
Die parasiet skuil die grootste deel van die dag in skeure of gleufies so na as moontlik aan hul slagoffers en slaan in die nag toe op die voëls. Noordelike hoendermyte is grys of swart gekleurd en bring hul hele lewensiklus op die voël deur, meestal rondom die uitskeidingsopening.
Swaar besmetting sal veroorsaak dat vere swart word weens die uitskeidings van die myte en ook hul eiers. In teenstelling met die noordelike hoendermyte en die rooi myte, affekteer skurwepootmyte slegs die bene van voëls.
Die bloedsuiende gewoontes van rooi myte en noordelike hoendermyte sal voëls laat verswak en uiteindelik aan erge bloedarmoede laat ly, sodat voëls bleek kamme en lelle het. Voëls mag ook gewig verloor en vatbaar raak vir ander siektes.
Die vere van geaffekteerde voëls raak vertoiing, dun en kollerig, wat soms aanleiding gee tot die uitpluk van vere en rooi, kaal kolle. Skurwepootmyte grawe onder die vel van die bene en pote in, wat inflammasie en skurfte veroorsaak. Indien voëls nie behandel word nie, mag hulle lam word en uiteindelik vrek.
Translated by Elna Van Rhyn