Pret Vakansie Breek - Aktiwiteite
Madikwe Wildreservaat, Noordwes Provinsie

Wildkyk

Die hoogs ervare gidse wat twee keer per dag gaste op wildritte neem het interessante stories om te vertel. Nie net oor die Groot 5 nie, maar ook oor die plante, bome en voëls van die Madikwe Wildreservaat. Hulle sal graag die geskiedenis van hierdie ongewone reservaat deel vanaf die begin toe die wildehonde en jagluiperds via Operasie Phoenix hier hervestig is. Dit is ’n merkwaardige reservaat met ’n verskeidenheid plantegroei, habitat en klimaat wat ’n eindelose bron van inligting tot gevolg het.

Buiten die twee daaglikse wildritte is daar ook ander geleenthede om die wild by Jaci’s te bekyk. Die unieke ondergrondse skuiling, genaamd Terrapin Hide, waar jy op ooghoogte na die wild wat kom drink kyk moet nie gemis word nie. Vanuit ’n ander oogpunt is die uitkyk dek van die luukse Starbed suites waar jy onder die sterre kan slaap en vanuit die hoogte na die wild kyk net so besonders.

Bos Etes

Jaci’s Safari Lodge het wêreldklas sjefs. ’n Tipiese dag sal begin met ’n stomende koppie koffie voor die eerste wildrit. Met die terugkoms wag ’n smaaklike eersteklas ontbyt. Laatmiddag tee met heerlike tuisgebak en drinkgoed en versnaperinge tydens die vroegaand wildrit sal jou mond laat water. ’n Fees vir die oë en smaak is die Suid Afrikaanse geïnspireerde aandetes onder die sterre.

Spesiale Aktiwiteite

Jaci’s Safari Lodge bied fotografie geleenthede wat beide die ervare en beginner fotograaf sal geniet. As jy van fotografie hou is die fotografiese wildrit waar jy alles van natuurfotografie kan leer sonder om jou eie toerusting te hê beslis ’n moet. Die Terrapin Hide skuiling is die ideale plek om jou nuwe kennis te beoefen. ’n Nagrit onder die sterrehemel met die fokus op astronomie is vir stadsbewoners ’n heerlike ervaring. Sonder die stad se liggies is die nag ekstra donker wat die sterre ekstra helder laat vertoon.

Bespreek ’n spesiale bewaring-safari saam met ’n wildlewe veearts en wildbewaarder om ’n onvergeetlike vakansie by Jaci’s Safari Lodge te hê. Troues, herdenkings, verlowings en enige ander spesiale geleentheid kan deur Jaci's Lodge gereël word. ’n Troue by die lodge is 'n unieke ervaring met plaaslike seisoenale blomme en Tswana-dansers.