Die malariavrye Madikwe Wildreservaat is een van die reservate met ’n groot konsentrasie olifante en saam met ander volop wild is jy van ’n besonderse wildrit verseker.
Wildritte word die hele jaar deur by hierdie luukse lodge gedoen, soggens sowel as laatmiddag/vroegaand wanneer wildkyk geleenthede op sy beste is. Die laatmiddag wildrit, wat strek tot vroegaand, bied die ideale geleentheid om die nagdiere sowel as die pragtige sterre te sien.
Benewens die daaglikse wildritte het die luukse Last Word Madikwe ook ’n innoverende ondergrondse skuiling wat gaste die geleentheid bied om diere wat die watergat besoek van naby af te sien. Die skuiling se dak is net bokant die grondvlak en is voldoende versterk sodat olifante veilig daaroor kan loop.
Die smaaklike etes by Last Word Madikwe dra by tot ’n onvergeetlike safari. Die kundige sjefs maak heerlike maaltye en probeer om al die gaste se spesifieke diëte te akkommodeer. Ontbyt en middagete word in die pragtige tuin geniet en saans word daar onder die sterre in die boma geëet.
As jy later in die dag lus raak vir iets lekker kan jy ’n tradisionele laatmiddag-tee geniet. ’n Volgepakte kroeg verseker dat daar aan elkeen se behoefte voldoen kan word.
Kinders van alle ouderdomme is welkom by die luukse Last Word Madikwe. Daar is ’n spesiale wildrit vir kinders wat te jonk is om saam op die gewone wildritte te gaan. Kinderoppassers is ook op aanvraag beskikbaar.