Vitamine Aanvullings vir Bokke

© Marinda Louw
Bokke is intelligente diere en wei rond en bont om kruie, onkruide en ander plantmateriaal met diep wortelstelsels wat ‘n relatief hoë mineraalinhoud het, te vreet. Bokke benodig energie, proteïene, vitamines, minerale, vesel en water, waarvan proteïene die duurste is. 'n Wanbalans van vitamines en minerale kan die diere se algemene prestasie beperk en verskeie gesondheidsprobleme veroorsaak. Ruvesel is noodsaaklik om ‘n gesonde rumen in stand te hou en verteringsongesteldhede te verhoed, terwyl water die goedkoopste voedingsbestanddeel is maar dikwels die een wat die meeste verwaarloos word.

Vitamines wat Bokke Benodig

Vitamine A verseker weerstand teen siektes en ‘n tekort kan swak bevrugting, aborsies, oogsiektes, lugwegprobleme en diarree tot gevolg hê. ‘n Bok se spysverteringstelsel produseer vitamine A van karoteen, wat voorkom in mielies, wortels en groenvoer, maar is afwesig in ou hooi en weiding.
Vitamine D is noodsaaklik vir behoorlike absorpsie van kalsium en fosfor en baie sonlig is nodig om genoeg vitamine D te kan kry. ‘n Tekort kan swak groei veroorsaak.
Vitamine E is belangrik vir melkkwaliteit en voortplanting. Vitamine E kom voor in die meeste vars voer, maar oksideer vinnig sodat ou hooi en gemaalde grane swak bronne is. ‘n Tekort veroorsaak die degenerasie van die hart en skeletspiere. Spiervesels word bleek – vandaar die naam ‘bleekspiersiekte’. Die toestand is hoogs onwaarskynlik op aangeplante weiding, maar diere wat nie wei nie, moet goeie hooi ontvang.
Vitamines C en K is teenwoordig in gras en hooi. Hulle kan ook vervaardig word deur die bakterieë in die rumen (vit K) of in die lewer en niere (vit C).
Bokke en ander herkouers het bakterieë in hul rumen wat die B vitamines sintetiseer, maar parasiete in die dermkanaal kan sekere B vitamine verwyder. Gebrek aan hierdie vitamines kan lei tot serebrokortikale nekrose, ‘n toestand wat senusimptome veroorsaak. Dis die gevolg van die nekrose of afsterf van selle in die korteks van die brein as gevolg van ‘n gebrek aan tiamien (vit B1).

Translated by Elna Van Rhyn