Verskille Tussen die Boesman en die Khoikhoi

‘n Botsing van Kulture

©Shem Compion
Alhoewel die Khoikhoi en die Boesman verwant is, beide geneties en taalkundig, moes daar ’n kultuur botsing gewees het toe die twee groepe mekaar die eerste keer ontmoet het. Die Khoikhoi se vee was vir hulle baie belangrik en ’n teken van status en welstand. Die diere is as privaat eiendom gesien en diegene met baie diere is belangriker geag as die wat minder besit. Die minderes het dan dan ook die rol as dienskneg vir die “rykes” vervul.
Die Boesman het ’n meer sosialistiese struktuur en is deur die Khoikhoi as gering geag. Selfs die naam “Khoikhoi”, wat manne van manne beteken, het hulle van die nederige Boesmans onderskei. Die Boesman is “Sonqua” of “San”, wat mans met niks beteken, genoem. Om hierdie rede voel die hedendaagse Boesmans dat die term “San” ’n belediging is.

Verskillende Leefstyle

Die Khoikhoi en Boesman het verskillende leefstyle op grond van verskillende ekonomiese modelle gehad. As sodanig was konflik oor water, hulpbronne en grond onvermydelik. Die Khoikhoi was ook nog aktiewe jagters en die kompetisie vir die wildlewe moes redelik intens gewees het. Die twee groepe het egter ’n manier gevind om klaar te kom en het minstens 1500 jaar lank as afsonderlike kulturele entiteite bestaan - totdat die Europeërs die water kom vertroebel het. Daar is selfs gevalle waar Boesmans vir Khoikhoi-gesinne gewerk het en na hulle kuddes omgesien het. Die Boesmans het die Khoikhoi ook van heuning voorsien of hulle reën-maak vaardighede in ruil vir kos verskaf.
In die Richtersveld lyk dit egter of die Boesmans, afgesien van ’n paar Strandloper-stamme wat steeds langs die kus gewoon het, kort ná die Khoikhoi se koms verdwyn het. Dit kan as gevolg van migrasie of integrasie met die Namakwa gewees het. Dit is immers nie ’n gebied wat ’n groot populasie kan onderhou nie.

Herders en Jagters

Aan die ander kant het Richard Elphick, ’n moderne historikus, ’n teorie dat die verdeling tussen die herders en jagters baie gemaklik was en net so veel van geluk as ekonomiese waarde afgehang het. Volgens Elphick was die Boesman en Khoikhoi essensieel dieselfde mense. ’n Khoikhoi-stam kon dus maklik hulle kudde deur droogte, diefstal of siekte verloor het en dan weer die jagter-versamelaar leefstyl van die Boesman aanneem.
Aangesien dit ’n minderwaardige lewenswyse was, sou die ambisieuse Khoikhoi-stam probeer om sy kuddes deur middel van diefstal of ruilhandel weer op te bou. Dit het ’n sikliese model van herders teenoor jagters geskep. Op grond van argeologiese bewyse blyk dit egter dat daar inderdaad twee afsonderlike groepe binne die Khoi-San-volk was. Elphick se model is egter steeds nuttig as dit op die koloniale era, toe die Europeërs druk op die tradisionele leefstyl van die inheemse mense aan die Kaap geplaas het, toegepas word.

‘n Nomadiese Leefstyl

Argeologiese opgrawings het ook ’n verband tussen die herders en pottebakkery aangedui. Dit kan wees omdat boere surplusgoedere moes stoor en jagters geneig was om dadelik die voedsel te nuttig. Die teenwoordigheid van swaar pottebakkery impliseer ook dat die Khoikhoi nie soveel soos die nomadiese Boesmans rondgetrek het nie. Dit maak sin omdat hulle kuddes aan hulle ’n sekere voedselsekuriteit verskaf het. Hulle hoef nie so baie rond te trek nie en kon ’n hoër populasie onderhou. Nietemin het die Khoikhoi nog steeds ’n nomadiese lewenstyl beoefen deur seisoenaal op soek na goeie weiveld rond te trek.
Elke groep het dus ’n taamlik vaag omskrewe gebied beheer en lede van die verskillende groepe het in ’n gereelde seisoenale patroon tussen die gebiede rondgetrek. Dit het tot die maak van draagbare matjieshuise of “|haru oms” gelei. Dit kon by die verskillende gebiede en watergate wat periodiek gedurende die jaar bewoon is opgerig word. Soms is buitestaanders, in ruil vir ’n huldeblyk of betaling aan die hoofman, toegelaat om die stam se grond te gebruik. Op geen stadium mag grond egter deur enige privaat individu besit word nie. Dit is hierdie antieke vorm van nomadiese boerdery wat steeds in die Richtersveld Wêrelderfenisgebied beoefen word.

Translated by Ananda Schoeman