Serval
Tierboskat

© Shem Compion

Naam

Tierboskat [Leptailurus serval]

Voorkoms

Hierdie kat is slank gebou en is 500 mm hoog by die skouers. Die rug, sye en stert is bedek met ‘n goue bruin jas, met swart strepe langs die ruggraat en swart kolle op die sye en stert. Die Tierboskat het ‘n klein, lang kop en groot afgeronde ore met afwisselende swart en wit strepe aan die agterkant. Daar is opgemerk dat die Tierboskat hierdie prominente streepmerke op sy ore gebruik om met ander van sy spesie te kommunikeer. Melanistiese Tierboskatte verkies die klammer en digter beboste gebiede van hul streek.

Dieet

Die meerderheid van sy dieet bestaan uit knaagdiere, veral rotte. Voëls, paddas, insekte, klein reptiele en selfs vis kan ook soms deel uitmaak van hul dieet.

Teling

Katjies, in werpsels van drie tot vier, word gebore in dik grasbedekkings. Die swangerskap beloop oor ‘n tydperk van 68-72 dae. Geboortes vind dikwels plaas teen die einde van die somer. Om haar werpsel te beskerm sal die ma gereeld haar werpsel na nuwe skuilplekke verskuif. Dit maak dit moeilik vir roofdiere om op die werpsel af te kom.

Soos die Cheetah, moet die Tierboskat wyfie gereeld haar werpsel agterlaat om te gaan jag. Sodra die welpies groot genoeg is om te jag, sal die ma die mannetjies vir eers van die familie af verdryf. Wyfies sal saam met hul ma bly totdat hul seksueel volwasse is. Daarna sal hulle deur die ma verdryf word, sodat hulle hul eie gebiede kan vestig.

Gedrag

Hulle is enkellopers behalwe tydens paring of gedurende die tyd terwyl die ma omsien na haar welpies. Tierboskatte gebruik hul reuk om hul groot grondgebied van 15-30 vierkante meter te merk. Grondgebiede is nie eksklusief nie, maar hulle vermy kontak met ander katte waar moontlik. Die reuk van urine en ontlasting word gebruik om hul grondgebiede te merk. Die mannetjies beweeg oor groter gebiede as die wyfies. Tierboskatte is ontwykend en skaam en is meestal nagdiere wat jag met behulp van hulle reuk, klank en sig sintuie.

In sekere gebiede in Afrika is hulle ook aktief gedurende dagbreek en skemer. Hulle het uitstekende gehoor en kan as gevolg daarvan prooi opspoor wat ondergronds beweeg. Sodra die kat sy prooi hoor, sal hy stilweg nader beweeg en dan die prooi bespring. Tierboskatte speel dikwels met hul prooi voordat hulle dit vreet. Die Tierboskat kan ‘n paar verskillende klanke maak insluitend grom, brom, spoeg, spin en ‘n roep met ‘n hoë toonhoogte na ander katte. Wanneer die kat homself verdedig, sal hy sy rug kromtrek en hardop grom.

Habitat

Sy voorkeur habitat is klam, lang grasvelde, wat dikwels met vleilande geassosieer word. Hierdie voorkeur lei tot ‘n gelokaliseerde verspreiding.

Waar hulle gevind word

In Suid-Afrika word die Tierboskat in dele van die Noordelike Provinsie, Mpumalanga, KwaZulu Natal Drakensberg en in Lesotho aangetref. Dit word geklassifiseer as skaars in die Suid-Afrikaanse Rooi Data Boek.