Resepte vir Natuurlike Plaagbeheermiddels

© Marinda Louw

Daar is kommersiële produkte soos neem olie en insekte seep (‘insecticidal soap’) beskikbaar om teen insek-peste te gebruik, maar 'n paar tuisgemaakte doepas mag ook help om insekte te verdryf.

Knoffelsproei

Sny drie groot knoffelhuisies op en en meng met 1 liter kookwater en twee eetlepels vloeibare paraffien - dit help dat die mengsel aan blare kleef. Week vir twee dae en meng dan met 10 liter water. Spuit op plante. Die knoffelsproei hou die meeste insekte weg.

Rissie en Knoffel Sproei

Sny drie groot knoffelhuisies op en kneus vyf rissies en meng met 1 liter kookwater en twee eetlepels vloeibare paraffien. Week vir twee dae in die water en meng met 10 liter water. Spuit op plante. Dit hou die meeste insekte weg.

Brandnetel Sproei

Pluk ongeveer 'n inkopiesak vol brandnetels, wat nie dig ingestop is nie. Dra handskoene, dit gaan jou brand as jy dit met kaal hande probeer doen. Voeg 5 liter kookwater en 5 eetlepels vloeibare paraffien by. Laat staan vir ten minste een week (kan tot een maand gehou word). Voeg 20 liter water by. Die mengsel kan elke tweede week op die plante gebruik word en is baie voordelig om alle insekte weg te hou. Let wel: dit moet elke twee weke gedoen word en is voorkomend, dit beheer nie insekte nie.

Kakiebos

Pluk ongeveer 'n inkopiesak vol kakiebos – stop maar baie in. Gooi 5 liter kookwater oor en laat staan vir ten minste een week (kan tot een maand gehou word). Dis nie nodig om vloeibare paraffien by te gooi nie, want daar is alreeds baie natuurlike olies in die plant. Gooi 'n eetlepel (15ml) opwasseep en 20 liter water by. Spuit elke tweede week om insekte weg te hou.

Hout-as

Hout-as is deur ons voorvaders gebruik om insekte te beheer. Dit is goed vir die grond en bevat fosfor (P) en kalium (K). Sprinkel fyn, ou, droë hout-as rondom plante. Maak seker dat die as nie aan die plante raak nie. Moet nooit steenkool-as gebruik nie. Hout-as kan ook baie suksesvol gebruik word om slakke weg te hou.

"Kewer en Wurm Sop"

Versamel die kewers of wurms wat probleme veroorsaak soos die groot geel en swart kewer wat rose afvreet of snywurms wat baie skade kan aanrig. Sit die kewers of wurms in 'n houer en bedek met water sodat hulle versuip. Gooi nou warm water oor die kewers (of wurms) en maak 'n sterk “kewer sop (of wurm sop)” daarvan. Laat staan 'n paar dae en gebruik as spuitmiddel op die deklaag en rondom plante. Die metode is veral effektief in die bekamping van snywurms.

Alskruid

Alskruid (Artemesia absinthium) in 'n tee verdryf plantluise, vlooikewers, vlieë, koolwitjies en naakslakke. Maak 'n tee met 'n handvol kruie en meng met 'n liter kookwater.

Sourced by Surplus People Project (SPP)