Onkruid Beheer in Organiese Boerdery

© Marinda Louw

Plante groei waar daar kos is, in die toestande waar hul die beste aard. Deur te kyk na watter onkruide voorkom, kan wenke verkry word oor die toestand van die grond.
Onkruid word dus deur organiese boere gesien as aanwyser-plante. (‘indicator plants’). Dit dui aan watter tekorte of oormaat van minerale in die grond is en gee ook inligting omtrent die pH, voggehalte en kompaksie van die grond.
Soos die beroemde Amerikaanse botanis Frederick Clements (1920) verduidelik het: ‘Elke plant is ‘n aanduider. Dit is die gevolgtrekking van die feit dat elke plant die produk is van die omstandighede waaronder dit groei en is dus ‘n maatstaf van hierdie omstandighede. Dus enige reaksie van ‘n plant gee ‘n wenk oor die faktore wat daarop inwerk.”
Goeie voorbeelde is kweek wat gekompakteerde grond aandui en brandnetel wat groei op grond wat hoog is in stikstof. Klawer sal jy sien op grond wat stikstof-arm is.

Hoe om Onkruid te Beheer

Onkruidbeheer is ’n ander groot uitdaging in organiese landbou. Die mees effektiewe manier is meganiese uitroei van onkruide. Dit kan met die hand gedoen word of deur toerusting wat aan trekkers gehaak kan word om onkruid te verwyder. ’n Duur metode, waarvoor apparaat nodig is, is om die onkruid te vlam dm.v. ‘n pyp met gasvlam agter-aan ‘n trekker te koppel. Dit is organies, maar duur en gevaarlik.
’n Deklaag kan ook gebruik word om onkruid te beheer, maar ook om die grond klam te hou vir langer tydperke, kan tot die organiese materiaal inhoud in die grond bydraen voorkom dat die grond vries (nie ‘n algemene verskynsel in Suid-Afrika nie).
Die deklaag kan organies wees (strooi, kompos, bas) of dit kan plastiek wees. Vind net eers uit van die sertifiseringsliggaam of die gebruik van plastiek aanvaarbaar is. Plastiek moet aan die einde van die oes verwyder word en op ’n omgewingvriendelike manier vernietig word.

Gebruik van Dekgewasse om Onkruid te Beperk

Dekgewasse en tussenry verbouing (‘intercropping’) kan ook help om onkruid te bekamp. Die grond word so dig met gewasse beplant dat daar nie plek of lig is vir onkruidsade om te ontkiem en groei nie. Tussenry verbouing is ook ’n manier om die bio-diversiteit van die produksie eenheid te verhoog.
Die plant van dekgewasse is se hoofdoel is egter verbetering van grondgesondheid en word nie noodwendig geoes of as weiding aangewend nie. Gewilde gewasse vir dié praktyk sluit in peulgewasse en 'n verskeidenheid klawers.

By Marinda Louw