Hoe om Varkmedisyne Korrek te Gebruik

©National Pork Board, USA
Vir die beste resultate moet medisyne, entstowwe en enige ander middels geberg, aangewend of toegedien word volgens die instruksies op die etiket. Daar moet ook seker gemaak word dat varke reg gediagnoseer is alvorens enige medikasie toegedien word. Deur instruksies te ignoreer, ontstaan die gevaar dat die behandeling nie werk nie, of slegs gedeeltelike beskerming teen siektes bied, wat neerkom om op ‘n vermorsing van geld.

Lees die Etiket

©National Pork Board, USA
Lees eers die etiket voordat jy enigiets anders doen om seker te maak dat jy verstaan hoe die behandeling toegedien moet word. Kyk ook na die vervaldatum, want medisynes wat al verval het mag moontlik nie meer die verlangde uitwerking hê nie.

Hou dit Koel

©National Pork Board, USA
Medisyne moet gewoonlik by lae temperature geberg word. Dit moet dus vanaf produksie totdat dit aan die dier gegee word, korrek geberg word. Om te verhoed dat die koue ketting gebreek word moet boere hul medisyne van ‘n betroubare bron verkry en onmiddellik die medisyne in ‘n koelhouer met ys plaas vir vervoer na die plaas. Op die plaas behoort die medisyne verkieslik in ‘n gesluite yskas gehou word totdat dit gebruik word. Medisyne mag nooit in die son laat lê word nie omdat die ultravioletstrale ‘n negatiewe uitwerking kan hê op die effektiwiteit van medisyne.

Korrekte Dosis

©Roger de la Harpe
Die toedien van te min of te veel medisyne op ‘n slag sal nie die gewenste effek hê nie. Onderdosering mag veroorsaak dat varke nie voldoende beskerm is nie, terwyl oordosering nie net kostes sal opjaag nie, maar ook negatiewe newe-effekte mag hê.
Wanneer middels soos dip en spuitstowwe aangemaak word moet seker gemaak word dat dit gedoen word volgens instruksies op die etiket. Water moet nie net skoon wees nie, maar van ‘n goeie gehalte wees omdat hoë vlakke van sekere minerale en elemente, of water wat te suur is, die behandeling minder effektief mag maak.

Dien die Behandeling Korrek Toe

©National Pork Board, USA
Maak seker dat behandeling toegedien word volgens die instruksies op etikette. Die persoon wat die medikasie toedien behoort goed-opgelei te wees, nie slegs om die medikasie korrek toe te dien nie, maar om ook so min as moontlik stres by die varke te veroorsaak. Stres het nie slegs ‘n negatiewe impak op dierewelsyn nie, maar maak diere ook meer vatbaar vir siektes en kan veroorsaak dat behandeling nie so effektief is as wat dit behoort te wees nie. Indien die behandeling as inspuiting toegedien moet word, moet die inspuiting op die regte plek op die dier se liggaam gegee word, gewoonlik die nek. Spuite moet vervang word na elke inspuiting sodat siektes nie daardeur versprei word nie.
Vir orale (mondelikse) medikasie, moet daar baie seker gemaak word dat die diere die nodige hoeveelheid inneem, veral as dit saam met voer of water toegedien word. Die South African Pork Producers Organisation (SAPPO) beveel aan dat wanneer medisyne vir varke direk in die mond toegedien word, boere die koppe moet ophou en ‘n spuit gebruik. Die punt van die spuit moet aan die kant van die mond, onder die tong ingedruk word sodat die medisyne gesluk word en nie in die lugpyp beland nie.

Antimikrobiese Middels

©Roger de la Harpe
Met antimikrobiese middels spesifiek, kan die verkeerde aanwending die ontwikkeling van antibiotiese weerstand tot gevolg hê. Dit beteken dat die aktiewe bestanddeel in die behandeling minder effektief en selfs totaal oneffektief kan word vir die beheer van sekere patogene.
Stygende internasionale kommer oor antimikrobiese middel-weerstandigheid het tot gevolg dat daar groeiende druk op boere is om hierdie middels spaarsaam te gebruik en slegs indien absoluut noodsaaklik. In Suid-Afrika, spesifiek, is sekere antimikrobiese middels slegs op voorskrif van ‘n veearts beskikbaar.

Translated by Elna Van Rhyn