Hoe om Bokke se Kloue te Versorg

© Illustration by Tom Milner Out Here magazine
Bokke het ‘n vinnige metabolisme en is konstant aan die beweeg terwyl hulle wei en vreet. Siektes van die hoewe en verwaarloosde hoewe maak wei en loop agter kos aan moeilik en pynlik.
As bokke se hoewe te lank is, kan dit lei tot verrotting van die hoef (aan die onderkant en die horingwand van die hoef, asook hoof scald, wat voorkom tussen die ‘tone’ van die hoef. Hoewe moet gereeld geknip word (tot vier keer per jaar) sodat hulle hul normale vorm kan behou. Kyk na ‘n lam se kloutjies as ‘n voorbeeld van die perfekte vorm.

Behandeling van Hoof Scald

Hoof scald kom hoofsaaklik voor in nat toestande wanneer die mikroörganisme Fusobacterium necrophorum inflammasie tussen die ‘tone’ veroorsaak. Die vel tussen die ‘tone’ kan rou en klam wees met ‘n pienk kleur en is sensitief as dit aangeraak word. As dit nie behandel word nie kan die bok permanent besmet word. Spuit ‘n 10% oplossing kopersulfaat of sinksulfaat tussen die ‘tone’. ‘n 7% oplossing jodium kan ook gebruik word.
As bokke op aangeplante weiding loop, moet hulle behandel word nadat die dou afgedroog het, of hou hulle in ‘n droë omgewing vir 24 uur na behandeling. Die oplossing sal droog word op die hoewe en sal meer doeltreffend wees. As ‘n beduidende aantal diere in ‘n trop aangetas is, gebruik ‘n voetbad met ‘n sink-of kopersulfaatoplossing om absorpsie in die horingwand te verseker. Boerbokke is meer geneig tot hoof scald.

Behandeling van Sweerklou of Vrotpootjie

Vrotpootjie is ‘n aansteeklike siekte van die hoewe in bokke en skape en word veroorsaak deur die mikroorganismes Dichelobacter nodosus en Fusobacterium necrophorum wat in besmette grond voorkom.
Die eerste tekens van vrotpootjie is bokke wat mank loop, bene in die lug dra en op hul knieë wei. Diere mag onwillig wees om te loop en die hoewe mag sleg ruik terwyl ‘n afskeiding daaruit loop. Behandeling van vrotpootjie behels die knip van die kloue en verwydering van alle gedeeltes van die sool wat losgekom het van die onderliggende weefsel. Nadat die kloue geknip is, moet alle geaffekteerde diere vir ten minste 5 minute met alle pote in ‘n 10% oplossing van sink of kopersulfaat staan. Dit kan vier weke lank herhaal word. Diere wat nie genees nie, moet uitgeskot word. Besmetting kan plaasvind as ‘n besmette dier by die trop gevoeg word, of wanneer mikroörganismes op mense se skoene in die grond beland.

Hoe om Bokhoewe te Knip

©Marinda Louw
Die beste tyd om bokkloue te knip is nadat dit gereën het en die hoewe sagter en makliker is om te knip. Jy sal ‘n assistent nodig hê wat die bok in ‘n gemaklike sittende posisie kan vashou terwyl jy die kloue knip. Gebruik die punte van die kloutang en verwyder eers vuiligheid en modder uit die hoef. Daarna moet jy bepaal of die sool van die hoef gelyk is voordat jy begin om aan die wand van die hoef te knip. Begin by die punt van een klou. Knip daarna die buitewand van die hoef. As die buitewand te lank gegroei het, druk dit versigtig oop en knip dit af deur klein stukkies op ‘n slag af te knip. Moenie oorhaastig wees met hierdie proses en groot stukke op ‘n slag probeer afknip nie, want dit kan veroorsaak dat die hoef bloei. Knip die hoewe geleidelik korter totdat jy die wit streep van die nuwe groei kan sien. Hou op knip waar die sool pienkerig vertoon en nadat alle ongewenste gedeeltes verwyder is.
Knip heel laaste die binneste gedeelte van die hoef – tussen die “tone” waar die hakstukke bymekaarkom. Wees baie versigtig hier want die hak is sagter as enige ander deel van die hoef. Sweerklou word normaalweg naby die punt van die “toon” en langs die hoefwande gevind; dit affekteer selde die hak.

Translated by Elna Van Rhyn