Die Geskiedenis van Suid-Afrika se Volkslied

Die destydse Staatspresident, FW de Klerk, het op 20 April 1994 aangekondig dat die Republiek van Suid-Afrika voortaan twee volksliedere sou hê. Dit is Nkosi Sikelel’ iAfrika (God seën Afrika) en Die Stem van Suid-Afrika. 

©Eric Miller

Dit was deel van die bepalings van die tussentydse Grondwet van 1993, Artikel 248 (1) en Afdeling 2. Ingevolge Artikel 4 van die nuwe Grondwet van Suid-Afrika, wat op 10 Desember 1996 in Sharpeville onderteken is, is ’n verkorte en gekombineerde weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrica en Die Stem van Suid Afrika nou die Volkslied van Suid-Afrika. Op 10 Oktober 1997 is dit in die Staatskoerant, No. 18341, geproklameer.

Die Stem van Suid-Afrika

CJ Langenhoven het in Mei 1918 die gedig, Die Stem van Suid-Afrika, geskryf. Dominee ML de Villiers het in 1921 die musiek gekomponeer. Aan die einde van elke uitsending het die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) beide Brittanje se God save the King en Die Stem gespeel.

Die Stem is vir die eerste keer in die openbaar gesing met die amptelike hysing van die Nasionale Vlag op 31 Mei 1928 in Kaapstad. Die regering het egter eers op 2 Mei 1957 aangekondig dat Die Stem die amptelike Volkslied is.

Dit was ook die jaar waarop hulle die kopiereg verkry het. Die Stem van Suid-Afrika is in 1959 amptelik deur ’n parlementswet as die Nasionale Volkslied aangewys. Die Engelse weergawe van Die Stem is in 1952 as die Volkslied aanvaar en amptelik gesing.

Nkosi Sikelel’ iAfrika

Enoch Sontonga, ’n Metodiste-sendingskool onderwyser, het die eerste strofe van Nkosi Sikelel’ iAfrika as ’n Xhosa-liedjie in 1897 gekomponeer. Later is sewe ander strofes deur die digter, Samuel Mqhayi, in isiXhosa bygevoeg. ’n Sesotho-weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrika, wat in 1942 gepubliseer is, is deur Moses Mphahlele geskryf.

Nkosi Sikelel’ iAfrika het ’n gewilde lied geword nadat dit onder leiding van eerw. JL Dube se Ohlange Zoeloe-koor tydens konserte in Johannesburg gesing is. Later het dit die volkslied geword wat tydens die apartheidsjare by politieke vergaderings gesing is.

Oor die algemeen word die eerste strofe in isiXhosa of isiZoeloe en dan die Sesotho-weergawe gesing. Nkosi Sikelel’ iAfrika het egter geen standaard weergawe of vertaling nie en die woorde verskil van plek tot plek en van geleentheid tot geleentheid.

Die Amptelike Woorde

Die Stem van Suid-Afrika en Nkosi Sikelel’ iAfrika is gekombineer om Suid-Afrika se nuwe Nasionale Volkslied te wees. Hier volg die amptelike weergawe en die Afrikaanse vertaling van die isiXhosa, isiZulu, Sesotho en Engelse woorde verskyn in hakies.

isiXhosa en isiZulu
Nkosi Sikelel’ iAfrika
(Here seën Afrika)
Maluphakanyisw’ uphondo lwayo,
(Mag haar gees opstyg)
Yizwa imithandazo yethu,
(Hoor ons gebede aan)
Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo
(Here seën ons, ons haar kinders)
Sesotho
Morena boloka setjhaba sa heso,
(God beskerm ons nasie)
O fedise dintwa le matshwenyeho,
(Verban oorloë en twis)
O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso,
(Beskerm ons, beskerm ons nasie)
Setjhaba sa South Afrika - South Afrika.
(Ons nasie Suid-Afrika – Suid-Afrika)
Afrikaans
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes,
Waar die kranse antwoord gee,
Engels
Sounds the call to come together,
(Klink die oproep om bymekaar te kom)
And united we shall stand,
(En verenig sal ons staan)
Let us live and strive for freedom,
(Kom ons leef en streef na vryheid)
In South Africa our land.
(In Suid-Afrika ons land)

Protokol by die Sing van die Nasionale Volkslied

©Eric Miller
Die Nasionale Volkslied moet met die nodige respek gesing word. Tydens die sing van die Nasionale Volkslied moet almal op aandag staan met die hande langs die sye.Translated by Ananda Schoeman