Desmond Tutu en die Einde van Apartheid

Nelson Mandela word Vrygelaat

©Eric Miller
FW de Klerk het in 1990 die ontbanning van politieke partye soos die ANC aangekondig en politieke gevangenes soos Nelson Mandela vrygelaat. Na sy vrylating het Nelson en Winnie Mandela by Desmond Tutu in sy huis in Bishopscourt in Kaapstad gaan bly. Tutu het vir die beëindiging van die sanksies gevra. Hy het ook die anti-apartheidsgroepe versoek om hulle wapens neer te lê en kerkleiers om hulle politieke affiliasies te laat vaar.

Met die uitbreek van geweld tussen die Inkatha Vryheidsparty (IVP) en die ANC het Tutu sy beplande reis na die VSA gekanselleer om, in ’n poging om vrede te bemiddel, met Nelson Mandela, FW de Klerk en die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi te onderhandel. Na die geweld uitgebrei het, het hy na die geaffekteerde gebiede ter ondersteuning van die slagoffers gereis. Daardie November het hy ’n beraad vir kerkleiers en politieke leiers georganiseer en hulle aangemoedig om saam te werk en die geweld te beëindig. Gedurende hierdie tyd het hy siek geword en vier maande in Atlanta Georgia deurgebring.

Opgewonde vir ’n Reënboognasie

©Eric Miller
Tydens die opbou van Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 was Tutu opgewonde oor die vooruitsig om sy drome vir die land gerealiseer te sien. Hy het toegelaat dat sy gesig vir veldtog plakkate gebruik word. Hy het die godsdienstige komponent van Nelson Mandela se inhuldiging as president georganiseer. Tutu het op ’n multi-godsdienstige seremonie, wat Christene, Moslems en Jode insluit, aangedring.

Hy het die idee van verskillende mense wat in harmonie saamleef ten volle ondersteun. Hy het die reënboognasie term vir post-apartheid Suid-Afrika gebruik. Mense van alle rasse, kulture en godsdienste moes mekaar vier en vry wees van onderdrukking of apartheid.

Voorsitter van die WVK

©Eric Miller
In die nadraai van apartheid het die vraag ontstaan oor hoe die nuwe regering die gruweldade wat voorheen gepleeg is moes hanteer. Die Nasionale Party het amnestie voorgestel terwyl die ANC versoek het dat voormalige staatsamptenare vir hulle misdade verhoor moes word. Op die ou end is die Waarheids- en Versoeningskommissie gestig en Tutu is as die voorsitter aangestel. Die doel van die WVK was om menseregteskendings wat deur beide die ondersteuners en teenstanders van apartheid gepleeg is, te ondersoek. Tutu het ’n driedelige benadering gehad om die sake voor hom te hanteer. Dit het uit die volgende bestaan:

Die beskuldigde partye moet openlik hulle aktiwiteite verklaar: ’n belydenis.
Die beskuldigde partye moet wettige amnestie verkry en vry wees van vervolging: ’n vergifnis.
Die beskuldigde partye moet regmaak wat hulle verbrou het: ’n vergoeding.

Tutu was diep deur die verhale van die verskriklike menseregteskendings waarna hy geluister het geraak en hy was dikwels baie emosioneel.

Na stories van geweld en marteling aan die hand van die ANC uitgekom het, het die party gevrees dat sy reputasie geskaad sou word. Hulle wou ’n deel van die WVK se finale verslag verander om skade te verhoed, maar Tutu het dit nie toegelaat nie. Hy het teen magsmisbruik gewaarsku en gesê dat soos gesien deur die geskiedenis in ander lande, die nuwe regering maklik net so onderdrukkend soos die ou een kan word.

Tutu het in 1996 uit sy pligte as aartsbiskop van Kaapstad bedank. Dit was om sy werk vir die WVK te prioritiseer en in 1998 het hy die WVK se vyf volume verslag aan Nelson Mandela tydens ’n seremonie in Pretoria oorhandig. Hy het die WVK se tekortkominge erken, maar was uiteindelik tevrede met sy werk.

Translated by Ananda Schoeman