Baobab
Kremetart

© Peter Delaney

Naam

Kremetart
Ander name sluit in boab, baoaboa, tabaldi, bottle tree, upside-down tree, en monkey bread tree.

Latynse naam

Adansonia digitate

Beskrywing

Alle kremetarte is bladwisselend en word van 5 tot 20 meter hoog. Die kremetart het ‘n eienaardige voorkoms en kom voor in die laagliggende gebiede van Afrika en Australië. Hulle kan geweldig groot word en met koolstofdatering is bewys dat hulle selfs so oud as 3 000 jaar word. ‘n Baie ou hol kremetart in Zimbabwe is so groot dat tot 40 mense in sy stam kan skuil. Verskeie kremetarte is al gebruik as ‘n winkel, ‘n tronk, ‘n huis, ‘n stoor, en stoorplek vir ‘n bus. Die boom verskil radikaal van enige ander boom. Sy stam is glad en blink in teenstelling met die bas van ander bome, en soms pienkerig-grys of koperkleurig.

Wanneer die boom sonder blare is, lyk die takke soos boomwortels wat in die lug opsteek, byna asof die boom onderstebo geplant is. Dis baie moeilik om ‘n kremetart dood te maak. Selfs as hulle aan die brand gesteek, of hul bas verwyder word, sal hulle bloot nuwe bas vorm en aanhou met groei. Wanneer hulle egter self doodgaan, verrot hulle van binne en stort skielik in duie met slegs ‘n hoop vesels wat oorbly as enigste bewys dat hulle wel eens daar was. Hierdie verskynsel gee aanleiding tot die geloof dat hulle nie doodgaan nie, maar bloot verwyn.

‘n Ou kremetartboom skep sy eie ekosisteem. Hy onderhou die lewens van verskeie lewende wensens, van die grootste soogdiere tot die duisende klein wesentjies wat in sy holtes skuil en lewe. Voëls maak nes in sy takke, bobbejane lê weg aan sy vrugte, nagapies en vrugtevlermuise drink die nektar en bestuif die blomme, en olifante breek sommer die boom en verorber dit in geheel. Omdat ‘n jong kremetartboompie glad nie soos die volwasse bome lyk nie, glo die Boesmans dat hy ook nie soos ander bome groei nie, maar net op ‘n dag, volgroeid, skielik op die grond neerplof met ‘n slag totdat hy op ‘n dag weer net verdwyn. Dis geen wonder dat kremetarte beskou word as towerbome nie.

Blomme en vrugte

Die kremetartboom het groot, witterige blomme wat in die nag oopgaan. Die vrug, wat tot ‘n voet lank word, bevat wynsteensuur en vitamiene C en kan óf gesuig word, óf in water geweek word vir ‘n vefrissende drankie. Dit kan ook gerooster en gemaal word om ‘n koffie-agtig drankie te lewer. Die vrug is nie die enigste deel van die kremetartboom wat benut kan word nie. Die bas word fyngestamp vir tou, matte, mandjies, papier en materiaal en die blare kan gekook en geëet word, terwyl gom van die stuifmeel gemaak kan word.

Gebruike

Vesels van die bas word gebruik om tou, mandjies, materiaal, snare vir musiekinstrumente en waterbestande hoede te maak. Hoewel die verwydering van die bas van die onderste gedeelte van sy stam in die meeste gevalle die dood van ‘n boom beteken, kom die kremetartboom niks daarvan oor nie en generereer boonop nuwe bas. Vars kremetartblare verskaf ‘n eetbare groente soortgelyk aan spinasie en word ook medisinaal aangewend in die behandeling van nier- en blaasprobleme, asma, insekbyte en ‘n verskeidenheid ander kwale. Die smaaklike en voedsame vrugte en sade van verskeie spesies is gesog, terwyl die stuifmeel van die Afrika en Australiese kremetart met water gemeng word om gom te produseer.

Inboorling legendes

Die stamme langs die Zambezi glo dat die kremetartbome regop en trots was toe die wêreld nog jonk was. Hulle het egter, om die een of ander onverklaarbare rede, baasgespeel oor die ander plantegroei, en die gode kwaadgemaak. Toe pluk die gode die kremetarte uit die grond uit, en plant hulle terug, onderstebo. Nou spook bose geeste by die soet, wit kremetartblomme en enigiemand wat een pluk, sal deur ‘n leeu doodgemaak word. Volgens oorlewering spook ‘n luislang by ‘n reuse kremetartboom in Zambië.

Voor die koms van die Witman, het ‘n reuse luislang in die hol stam van die boom gewoon, en is aanbid deur die inboorlinge. As hulle vir reën, goeie oeste and voorspoedige jagtogte gebid het, het die luislang hul gebede verhoor. Die eerste wit jagter het egter die luislang gskiet, met katastrofale nagevolge. Die inboorlinge beweer dat hulle op stil nagte ‘n aanhoudende sisgeluid vanuit die ou boom hoor.

In die Kafue Nasionale Park in Zambië, word een van die grootste kremetartbome ‘Kondanamwali’ genoem – die boom wat maagde verslind. Dié reuse boom het verlief geraak op vier pragtige meisies wat in sy skadu geleef het. Toe hulle puberteit bereik, het hulle na mans begin soek en die boom het jaloers geraak. Een nag, tydens ‘n donderstorm, het die boom sy stam oopgemaak en die meisies na binne geneem waar ‘n rusplek in die takke gebou was. Op stormagtige nagte is dit die gehuil van die meisies binne-in die boom wat die mense laat bewe, nie die geluide van wilde diere nie.

Langs die Limpopo word dit geglo dat ‘n jong seun wat gewas word in water waarin kremetartbas geweek is, ‘n groot man sal word. Dit is bewys dat sommige van hierdie inboorling-gelowe waarskynlik op ‘n wetenskaplike grondslag berus. Daar word geglo dat vroue wat in krale woon waar daar baie kremetartbome is, meer kinders het as die wat in ander areas woon. Hulle eet sop wat gemaak word van kremetartblare wat ryk is aan vitamienes. Dit vergoed vir enige tekorte in hulle dieet. Dokters het bevestig dat dit wel hoër vugbaarheid tot gevolg het.

Die Afrika boesman het ‘n legende oor die god Thora, wat nie gehou het van ‘n kremetartboom wat in sy tuin gegroei het nie. Hy het die boom uitgepluk uit die paradys en oor die muur gegooi sodat dit onderstebo op die aarde te lande gekom het. Die boom het nogtans bly groei. Dis nie vreemd dat so ‘n eienaardige boom die bron is van soveel bygelowe nie.

Sommige mense glo dat jy deur ‘n leeu gevreet sal word as jy ‘n blom van die kremetartboom pluk, maar tersefdertyd glo hulle ook dat jy beskerm sal wees teen ‘n krokodilaanval indien jy water drink waarin kremetartsade geweek is. Sommige stamme in die Gauteng/Mpumalanga was babaseuntjies met water waarin die bas van die kremetartboom geweek is. Dan sal hulle, soos die boom, groot en magtig en sterk wees wanneer hulle groot is.

Waar hulle gevind word

Kremetartbome is wydverspreid in streke oor Afrika. Hulle groei ook in Madagaskar, Indië,
Ceylon en Australië en in baie areas van Zimbabwe. In die Noordelike Provinsie word hulle gevind tussen die Limpopo and die Soutpansbergreeks.

Messina is tereg ‘n kremetartdorp. Daar is ‘n beroemde ‘halfweg kremetart’ tussen Louis Trichardt en Messina, waar baie se dors seker al geles is. Dit kom voor asof kremetartbome warm, sanderige vlaktes verkies.