Apartheidervarings – Pogings tot Gedwonge Verskuiwings

Beauty Skefile van Khayelitsha onthou botsings tussen die gemeenskap en die polisie en hoe hulle weggehardloop het van die polisiehonde gedurende pogings tot gedwonge verwydering uit Crossroads, Kaapstad, in die 1980’s.

‘n Plakkershut in Crossroads

©Eric Miller

Na ‘n aantal jare het my familie en ek na Crossroads toe getrek om ‘n plakkershut op te rig. Crossroads is vandag ‘n baie groot informele behuisingsarea, maar ons was een van die eerste families wat daarheen getrek het, en toe was dit net ‘n groot beboste gebied.

Tye was hard. Vir jare – ek kan nie onthou hoeveel nie, dalk ses, dalk agt – het ons gewoon in ‘n seilskerm met stokke wat dit regop gehou het. Maar ons moes dit elke dag wegsteek, en aanhoudend beweeg van die een plek na die volgende, want die polisie het aanhoudend gekom om ons te vind. Hulle wou ons nie in Crossroads gehad het nie. Hulle het gesê dat dat Kaapstad slegs vir blankes was en dat ons nie ons hutte daar kon opslaan nie. Hulle was altyd besig om ons weg te jaag.

Ons moes elke oggend opstaan en ons hutte afbreek voordat die polisieinspekteurs opgedaag het. Dan het ons alles wat ons besit het weggesteek onder rotse. Dit was om te verhoed dat die polisie alles vernietig. Later, nadat hulle weg was, moes ons die hutte van vooraf bou. Ons moes dit elke dag doen vir ongeveer vier jaar, want sodra die polisie ons hut gevind het, het hulle dit omgestoot en sand oor alles geskop in ‘n poging om dit te vernietig.

Maar dan moes ons ons huis iewers anders heen verskuif, want die polisie sou terugkom. Hulle het selfs met hulle honde gekom. Soms het hulle bedags gekom, soms in die namiddag en soms in die nag, baie van hulle op ‘n keer.

Nagtelike Polisieklopjagte

©Eric Miller

Soms, wanneer die polisie in die nag gekom het, was ons kaal en moes ons net so hardloop, want die honde het ons gejaag. Ons moes net opspring en hardloop, anders het die honde ons gebyt. Eendag het ek geval en toe het die honde my hier op my been gebyt. Ek was baie kwaad, baie kwaad, en ek het gehuil, ek het gehuil. Die honde het my tweekeer gebyt.

Ek weet nie wat ons gedoen het dat hulle nie vir ons ‘n blyplek wou gee nie, en ons net met honde wou verjaag nie. Ons kon hoor wanneer hulle op pad was, met hul sirenes wat so ‘whee, whee, whee’, gemaak het. Die eerste persoon wat hulle gewaar het, het “Kubomvu!” geskree, wat beteken “dit is rooi, hulle kom!” Dit was ‘n waarskuwing – ons swartmense se waarskuwing aan mekaar.

Polisie Verwoesting

©Eric Miller

Die een dag het daar vyf of ses polisimanne gekom, ander dae selfs twintig of meer. Ons het hulle aan een kant gesien en gehardloop, maar dan het hulle uit ‘n ander rigting gekom. Ons het weer weggehardloop, maar dan was hulle weer aan die ander kant. Die polisieman in bevel was ‘n lang man met swart hare en ‘n lang gesig, Mnr Basson.

Ons het hierdie meneer Basson geken, want hy het altyd gekom en hy het altyd gevloek en geskreeu op ons. Ons was baie bang vir hom. Die eerste keer toe hulle gekom het, het ek geslaap. Ek het ‘n groot lawaai buite gehoor en mense wat woedend skreeu. Toe ek buite kom het ek gesien baie mense is besig om Mnr Basson weg te stoot.

Maar die polisie het teruggekom, baie van hulle, en die hutte omgestoot met hulle stootskrapers. Hulle was baie sterker as ons, met hulle honde en gewere en masjiene. Ons was banger vir die honde as vir die gewere, want die honde het ons gejaag en gebyt. Maar na ‘n rukkie het hulle ons uitgelos. Hulle het probeer om ons bang te maak. Eenkeer het hulle ons almal op groot regeringsvragmotors gelaai. Ons was baie mense maar hulle het ons net in die vragmotors ingedruk, ingedruk.

Ons het nie tyd gehad om enigiets te gryp om saam te neem nie. Die vragmotor het in die rigting van Stellenbosch gery en daar moes die drywer stop vir brandstof. Ons het hard agterin die vragmotor gesing en toe hy stop het ons aanhoudend teen die deure geslaan. “Wat wil julle hê?” het die man gevra. Ons het gesê dat ons wou urineer (“pie”), en toe laat hy ons uitklim. Toe hardloop ons weg en duimry terug Crossroads toe. Toe ons daar kom, was al ons goed nog daar.

Die Black Sash Dames

©Eric Miller

Die Black Sash en Rooikruis het ons gehelp – hulle het baie gehelp. Elke keer as die polisie ons hutte omgestoot het, of as die hutte afgebrand het, het die Rooikruis met sop en ander kos gekom vir ons. Die Black Sash se vroue het met ‘n luidspreker na ons toe gekom en gesê dat ons ‘n vergadering moet hou. Op daardie vergadering het ons hulle alles vertel wat met ons gebeur het.

Hulle het na die politici toe gegaan en gevra waarom hulle die polisie op ons sit en ons hutte laat omstoot, aangesien ons nêrens anders gehad het om heen te gaan nie. Toe het die Black Sash vroue teruggekom en vir ons gesê wat hulle vir die politici gesê het. Daarna het die polisie ons so ‘n bietjie uitgelos.

Daardie vroue het vir ons geveg, so ons het gevoel al het dit maar sleg gegaan het met ons, was dit darem nie só sleg nie. Hierdie dinge het ons laat besef dat alle witmense nie dieselfde is nie. Sommige is baie goed en ander is nie goed nie, want hulle wil nie ‘n swart persoon naby hulle hê nie.

Translated by Elna Van Rhyn