Akwaponika: Die Oplossing vir Voedseltekorte

Akwaponika en die Groen Rewolusie

©Henk Stander
Die wȇreld staar 'n voedseltekort in die gesig as daar nie ernstige en daadwerklike aksies geloods word om onvolhoubare landboupraktyke te wysig nie. Dít was die boodskap van die World Wide Fund for Nature (WWF) se 2019 verslag wat daarop wys dat Suid-Afrika 50% meer voedsel sal moet produseer om sy beraamde bevolking van 73 miljoen teen 2050 te voed.
Kan akwaponika as voedselstelsel 'n oplossing vir ons voedseltekort bied? Die Europese Unie Parlement se Wetenskapskomitee reken so. Akwaponika is in hul 2015-verslag aangewys as een van die top-10 tegnologiese ontwikkelings wat die mens se lewe oor die volgende 50 jaar positief kan beïnvloed.

Die wêreld staan aan die begin van 'n revolusie van sy hele voedselstelsel. Daarby is die landbou aan die begin van die tweede groen revolusie - dit beteken dat ons moet slimmer en op meer omgewingsvriendeliker maniere voedsel produseer.
Die veranderings, innovasie en moderne tegnologie benodig vir die groen revolusie - soos volhoubare energie voorsiening - bestaan reeds. Produsente en landbou-ondernemings moet nou inklusiewe, volhoubare, effektiewe en voedingsryke voedselstelsels bou deur leierskapgedrewe, markgebaseerde aksies en onderlinge samewerking tussen belangegroepe en kundiges in die bedryf wat insigte kan verskaf. Navorsing en innovasie moet geïnkorporeer word in produksie praktyke en hierdie parktyke moet produksie-gedrewe wees.

Wat is Akwaponika?

©Henk Stander
Akwaponika word gesien as 'n produksiemetode van vars organiese voedsel teen bekostigbare pryse. Akwaponika is letterlik die teel van varswaterdiere soos visse en kreef in 'n hersirkulasie akwakultuur-stelsel in kombinasie met die produksie van plante sonder grond in 'n hidroponika stelsel.

Die visse in die akwakultuur stelsel leef in 'n simbiotiese verhouding met die plante in 'n geslote ekostelsel. Afvalstowwe van die visse wat is ryk aan fosfate en stikstof is opgelos in die water en word afgebreek deur gunstige bakterie tot nie-giftige vorms. Hierdie afvalstowwe dien as voedingselemente vir die plante. Die plante, op hul beurt, filtreer die water en maak dit skoon voor dit weer terugsirkuleer na die visse. Geen afvalprodukte beland in die omgewing nie en daar word 90% minder water as met tradisionele oopveld landbou praktyke gebruik.

Akwaponika Opleiding en Inligting

©Marinda Louw
Dit word hoog aanbeveel vir nuwe akwaponika boere om 'n basiese en praktiese opleidingskursus te voltooi voor daar met akwaponika begin word. Daar is verskeie diensverskaffers wat hierdie opleiding in Suid-Afrika aanbied.
Die Akwaponika Vereeniging van Suid-Afrika se webtuiste bied inligting en ondersteuning aan nuwe en gevestigde akwaponika boere.

By Henk Stander