Waterbuck
Waterbok

© Roger de la Harpe

Naam

Waterbok (Kobus ellipsiprymnus)

Orde

Artiodactyla (Ewehoewiges)

Familie

Bovidae (Horingdraers)

Voorkoms

Die waterbok is ’n groot robuuste wildsbok. Bulle het ’n skouerhoogte van 1.4 m en weeg 250 - 270 kg. Die koeie is kleiner en weeg 205 – 250 kg. Die waterbok het ’n grysbruin toiingrige pels. Die oë en neus is wit en daar is ’n wit kraag onder die keel.
Die boud het ’n kenmerkende wit ring om. Die groot geronde ore is ’n prominente kenmerk. Slegs die bulle het 75 cm lange horings wat voorwaarts kurwe. Albei geslagte gee ’n, nie onaangename nie, muskusgeur af wat gewoonlik by rusplekke geruik word.

Dieet

Die waterbok eet hoofsaaklik gras naby permanente waterbronne. Hulle sal takke en blare eet as die gras in ’n swak toestand is. Die waterbok is baie afhanklik van water en sal daagliks drink.

Voortplanting

Die waterbok se paarseisoen piek gedurende die wintermaande, maar kan tot ’n mindere mate die hele jaar voorkom. Na ’n dratyd van nege maande word ’n enkele kalf gebore, soms ’n tweeling.
Die meeste geboortes is gedurende die somermaande. Vir ’n paar weke sal die pasgebore kalf in die digte bos of lang gras skuil voordat dit saam met die koei by haar trop aansluit.

Sosiale Gedrag

Dit is ’n sosiale wildsbok. Die territoriale bulle beset gebiede wat hulle deur ’n aggressiewe houding en selfs gevegte verdedig.
Koeie, kalwers en jong alleenloper bulle vergader in troppe. Die samestelling van sulke troppe kan daagliks wissel soos wat waterbokke dit vrylik verlaat of by hulle aansluit.
Hulle is sterk swemmers en wanneer hulle ernstig bedreig word sal hulle in diep water toevlug soek. Die waterbok word in troppe van tot 30 aangetref.

Habitat

Die waterbok bly naby water gebiede, met ’n sterk voorliefde vir digte plantegroei en goeie medium tot lang grasse. Die waterbok loop soms in oop bosveld en vloedvlaktes.

Verspreiding

In Suid Afrika is dit langs die belangrikste dreineringstelsels van Mpumalanga, die Noordelike Provinsie en Noord-KwaZulu-Natal versprei. Dit is onlangs weer by die St Lucia en Ithala wildreservate in KwaZulu-Natal hervestig.

Natuurlike Vyand

Hiënas, leeus en luiperds is die belangrikste roofdiere, maar krokodille, wildehonde en jagluiperds vang ook die waterbok.

Spoor Beskrywing

Die waterbok se spoor hang van ouderdom en geslag af, sommige spore is wyd en stomp terwyl ander gepunt en smal is.