Stryd se Helde op Robbeneiland Gevange Gehou

Die Eerste Paar Gevangenes

©Eric Miller

Die leiers en verteenwoordigers van die ANC was die eerste wat gevange geneem is. Binnekort het verteenwoordigers van die ander opposisiegroepe, wat stelselmatig na die eiland gestuur is waar hulle nie probleme kon veroorsaak nie, by hulle aangesluit.

Oor die jare is lede van die volgende politieke partye ook daar aangehou: PAC (Pan Africanist Congress), SWAPO (South West African People’s Organisation), NLF (National Liberation Front), APDUSA (African People’s Democratic Union of South Africa), NEUM (non-European Unity Movement), LPSA (Liberal Party of South Africa), UDF (United Democratic Front), SAIC (South African Indian Congress) en AZAPO (Azanian People’s Organisation).

Die gevangenes was dus ver van homogeen en konflikte tussen die verskillende faksies het van tyd tot tyd opgevlam en is sonder twyfel deur die tronk owerheid aangemoedig.

Prominente Helde van die Stryd Gevange Gehou

©Eric Miller

Robbeneiland was nie eksklusief vir die bewaking van die ANC nie. Soos hierbo genoem, is duisende “gewone” voetsoldate saam met die bekendes op die eiland gevange gehou.

Van hierdie was: John Nyathi Pokela, Johnson Mlambo, Zephania Mothopeng, Andimba Toivo ya Toivo (van SWAPO), Neville Alexander, Billy Nair, Sonny Venkatrathnam, Kader Hassim, Fikile Bam, Eddie Daniels, Mac Maharaj, Harry Gwala en Wilton Mkwayi (wat die tronk owerheid vir 25 jaar lank beveg het om met sy geliefde Irene te trou).

In die 70’s en 80’s het die volgende toekomstige kabinetsministers en politieke leiers ook tyd op die eiland spandeer: Steve Tshwete, Kgalema Motlanthe, Tokyo Sexwale, Jacob Zuma, Saths Cooper, Mosiuoa ‘Terror’ Lekota, Joe Seremane, Strini Moodley en Ronnie Mamoepa.

Robert Sobukwe se Saak

©Roger de la Harpe

Nog ’n belangrike held wat op Robbeneiland gevange gehou is, was Robert Sobukwe, die stigter van die PAC. Sobukwe was charismaties en uitdagend en een van die eerste politieke gevangenes wat in die chaos na Sharpeville gearresteer is.

Hy is vinnig skuldig bevind en is drie jaar lank in Pretoria Sentraal Gevangenis aangehou. Die regering wou hom nie toe sy vonnis verby is loslaat nie omdat hy te gevaarlik was.

Dus is ’n nuwe wet ingestel wat verklaar het dat Sobukwe onbepaald in bewaring aangehou kon word. Geen verdere aanklagte teen hom sou tot niet gemaak word totdat hy die owerhede kon oortuig dat hy nie meer teen die apartheidsregering sou rebelleer nie.

Dit is die Robert Sobukwe klousule genoem. Sobukwe het absoluut geweier om aan die regering se afpersing gehoor te gee en is na Robbeneiland gestuur. Selfs hier is hy as so ’n groot bedreiging beskou dat hy nie toegelaat is om in die hoof tronk te bly nie. In plaas daarvan is hy in ’n huis aan die buitewyke van die dorp afgesonderd van die ander gevangenes aangehou.

Vir nege jaar lank het hy in die klein, tweevertrekhuis onder konstante waak gebly. Hy het geen besoekers ontvang nie en is verbied om met enige iemand te praat.

Sy isolasie was so geheel dat daar gesê word dat hy die vermoë om te praat gedeeltelik verloor het. Periodiek sou ’n regeringsamptenaar by die huis opdaag en Sobukwe sy vryheid aanbied op voorwaarde dat hy die stryd sal opsê.

Sobukwe het elke keer geweier. Alhoewel Sobukwe se geval uitsonderlik was, was die behandeling van alle politieke gevangenes op Robbeneiland brutaal en onnodig, veral in die jare voor 1965. Baie van die bewaarders was nie goed opgelei nie en het nie van die belesenheid van sommige van die gevangenes gehou nie.

Die eiland was ver van die wêreld se oë en die tronkpersoneel kon met omtrent enigiets wegkom. Bowendien was dit presies wat terroriste, kommuniste en vyande van die staat verdien het.

Om regverdig te wees moet egter genoem word dat die lewe van ’n tronkbewaarder op Robbeneiland moeilik was. Hulle het lang skofte gewerk, swak uniforms gedra en bullebak base gehad wat haat en vrees in die wit gemeenskap versprei het.

Die Bekendste Robbeneiland Gevangene: Nelson Mandela

©Eric Miller

In 1962 het die apartheidsregering ’n groot vis gevang, ’n senior ANC-beampte genaamd Nelson Rolihlahla Mandela. Hy is gevange geneem terwyl hy na Howick in Natal op pad was vir ’n ontmoeting met die ANC president Albert Luthuli (eerste Suid-Afrikaner wat die Nobelprys vir Vrede ontvang het).

Mandela was vermom as ’n chauffeur, maar die polisie het ’n wenk opgevolg (moontlik van die anti-kommunistiese CIA af?) en hy is in die Natalse Middelland in hegtenis geneem. Kort daarna het die polisie op ’n groep ANC grootkoppe op die plaas Liliesleaf, wat geleë is in Rivonia, toegeslaan.

Hulle is almal in hegtenis geneem en saam met Mandela aangekla van verraad, sabotasie, kommunisme en ’n sameswering om die staat omver te werp.

Die vervolging het vir die doodstraf gevra, maar as gevolg van vrees vir internasionale reperkussies, is die “Rivonia Agt” tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Nelson Mandela, Walter Sisulu, Achmed Kathrada, Andrew Mlangeni, Elias Motsoaledi, Govan Mbeki, Raymond Mhlaba is na Robbeneiland gestuur. Denis Goldberg is in Pretoria Sentraal Gevangenis aangehou.

Met Luthuli onder huisarres en Oliver Tambo in ballingskap het die regering die opposisie in ’n kort tydjie effektief stilgemaak. Nietemin sou die stryd ondergronds voortbestaan.

Translated by Ananda Schoeman