Omstredenheid oor die Oorsprong van die Vredefort Koepel
‘n Relatiewe Jong Wetenskap
Die ongewone geologiese kenmerke van die Vredefort Koepel is al so vroeg as 1878 deur wetenskaplikes raakgesien. Dit was duidelik dat ‘n betekenisvolle gebeurtenis in die omgewing plaasgevind het, maar niemand kon besluit wat dit was nie. Toe was geologie nog ‘n relatiewe jong wetenskap en van die dinamiek van buiteruimtelike impakte is maar min verstaan. Boonop is die oorspronklike krater gedeeltelik met jonger sedimente bedek en die koepel is erg verweer.
Vir die volgende eeu sou ‘n kontroversie oor die oorsprong van die Vredefort Koepel heers. Die oorspronklike en algemeen-aanvaarde hipotese was dat die koepel geskep is deur ‘n hewige vulkaniese ontploffing onder die aarde se oppervlak. Dit sou die omgekeerde rotslae, die opgeligte stuk antieke graniet en die teenwoordigheid van glasagtige gesmelte rots kon verklaar. Maar die druk wat uitgeoefen word deur ‘n interne ontploffing kon nie al die vreemde deformasies en geologiese onduidelikhede van die koepel verklaar nie. Nietemin, die dominante wetenskaplike teorie van ‘kripto-vulkanisme’ (vulkaniese aktiwiteit van ‘n onverklaarbare aard) is aanvaar as ‘n feit.
Geen Dwingende Alternatief
Deel van die probleem was dat daar in daardie tyd geen dwingende alternatief was nie. Die wetenskap van astronomie het toe eers begin om sy kleed van waarsêery af te gooi, en mense het nog nie in die ruimte gereis sodat hulle ‘n interplanetêre perspektief kon ontwikkel nie. Dit was ook problematies dat baie van die ouer ‘astroblemes’ reeds begrawe, getransformeer of selfs verwoes was deur geologiese prosesse en dus moeilik was om te identifiseer. As gevolg hiervan het die algemene opinie nie die moontlikheid van ‘n reuse buiteruimtelike impak oorweeg nie en daar is gemeen dat die meeste van die sigbare kraters op aarde deur interne kragte veroorsaak is. Daar is selfs gemeen dat die gapende kraters op die maan deur vulkaniese aktiwiteit veroorsaak is (wat deels waar was).
Eers in 1892 het ‘n gerekende geoloog genaamd Grove Karl Gilbert, ‘n refereraat publiseer wat beweer het dat die kraters op die maan deur impakte van asteroïede veroorsaak is. Vele ander wetenskaplikes het daarna referate publiseer wat die bewering ondersteun het. En toe, teen die draai van die eeu, het ‘n Amerikaanse besigheidsman hom begin toespits op ‘n klein, maar baie bekende krater in die Arizonawoestyn.
Danile Berringer
Hierdie man, genaamd Daniel Beerringer, het rotsmonsters afkomstig uit ‘n eenvoudige kom-vormige krater, toe bekend as Coon Butte, ondersoek en gevind dat hulle ‘n eienaardige sorrt nikkel-yster bevat. Hy het begin glo dat hierdie mineraal deel was van ‘n meteoriet (toepaslik genoem ‘Canyon Diablo’), wat met die aarde impakteer het en die 1,2km wye krater gevorm het waarna dit in die kratervloer ingebed is. Berringer se plan was om die krater te myn en die nikkel te ontgin. Dit was ‘n eenvoudige plan, maar Berringer was slegs halfpad reg.
Berringer en sy navorsers het die krater gekoop en duisende dollar aan mynbouaktiwiteite bestee. Hulle het egter nooit enige noemenswaardige hoeveelhede nikkel gevind nie. Die Canyon Diablo meteoriet het heeltemal verdamp met impak en slegs klein hoeveelhede van sy ysterkern het agtergebly. Nogtans het Berringer en ‘n kollega in 1906 ‘n verslag opgestel oor die impak-oorsprong van die krater, en dit ‘n nuwe naam gegee – ‘Meteor Crater’. Ten spyte van die mislukking van die mynbou-operasie het die Berringer-familie eienaarskap van die krater behou en dis nou ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid wat soms die Berringer Crater genoem word ter ere van sy kampvegter.
Betrokkenheid by die Debat
Berringer se beweringe oor ‘n impak-oorsprong het die aandag gevestig op Meteor Crater en wetenskaplikes het begin navorsing doen oor soortgelyke strukture in die res van die wêreld. Gedurende die 1920’s en 30’s het wetenskaplikes (dikwels onafhanklik van mekaar) referate produseer wat beweer het dat die oorsprong van beide maan en aardkraters impakte was. Aan die ander kant was die kriptovulkaniese kamp steeds dominant en hulle het steeds navorsing produseer wat hul hipotese ondersteun het. Die Vredefort Koepel het noodwendig betrokke begin raak by die debat.
Teen 1940 het dinge begin verander. Twee boeke, ‘Between the Planets’ en ‘The Face of the Moon’, is gepubliseer en het die idee dat maankraters deur meteorimpakte veroorsaak is, gewild gemaak. In 1946 is ‘n lys van bevestigde meteorkraters op die aarde gepubliseer. Daar was slegs 10, insluitend Meteor Crater, en elkeen moes geïdentifiseerde meteorietstukkies bevat het om te kwalifiseer. Maar die beweging het momentum begin kry.
Translated by Elna Van Rhyn