Sybokhaarproduksie en Bemarking in Suid-Afrika

© Mohair South Africa
‘n Angorabok word elke ses maande geskeer. Die gemiddelde gewig van die vag varieer, afhangende van die ouderdom van die bok. ‘n Lam se vag sal ongeveer 500g wees met die eerste skeer, in vergelyking met ‘n volwasse bok wat ongeveer 2kg sal weeg. Nadat die skeerdery verby is, word die vagte gesorteer, verpak en duidelik gemerk met kontakdetails en produsentnommer.

Bemarking van Sybokhaar

Kleinskaalse Angorabokboere kan gebruik maak van kommunale skeerpunte, maar kommersiële boere reël met skeerspanne om hul plase te besoek tydens skeertyd. Nadat dit geskeer is, word die sybokhaar geklas volgens lengte, sterkte en tekstuur, in bale gepak en met ‘n produsentnommer, asook die kwaliteitsklas van die haar, gemerk. Elke geregistreerde sybokhaarprodusent het ‘n produsentnommer. Individuele bale kan tot 150kg weeg. Kleinskaalse boere moet rekord hou van hul individuele bydrae tot ‘n baal om daarvoor betaal te word.
Bale word na die makelaars toe gestuur wat dit dan bemark en op veilings verkoop word wat min of meer 14 keer per jaar plaasvind by die Wool and Mohair Exchange in Port Elizabeth. Bale word uitmekaargehaal in lotte, en steekproewe van elke lot sal aangebied word aan kopers. ‘n Koper sal ‘n ‘lot’ onverwerkte haar (ook genoem ‘vetterig’) aankoop en dit dan verder prosesseer. Prosessering van sybokhaar behels sortering, was, kaardery, kam, spin, kleur, weef of brei, en uiteindelik, afronding.
Kopers vir Suid-Afrikaanse produksie maak ongeveer 5% uit terwyl die orige 95% van sybokhaar verkoop word vir uitvoer. Suid-Afrika se drie grootste uitvoerlande is China, Italië en Taiwan.
Daar is tans (2018) vyf hoofaankopers, drie makelaars en ongeveer 30 vervaardigers. ‘n Wye verskeidenheid sybokhaarprodukte word in Suid-Afrika produseer. Dit sluit in kouse, komberse, duvets, serpe, sowel as ‘n reeks ander klere en décoritems. Oorsee word sybokhaar gebruik deur vooraanstaande modehuise om luukse pakke en ander mode-artikels te vervaardig.
Mohair South Africa voorsien markinligting aan Angorabokboere en die industrie.

Sybokhaar Statistiek in Suid-Afrika

Sybokhaar word geproduseer in droë gedeeltes van die VSA en Australië, sowel as in Lesotho, maar Suid-Afrika lewer ongeveer 53% van die wêreld se sybokhaar. Die bruto waarde van die sybokhaarproduksie was R529 miljoen in 2015. Produksie in 2015 (2 500 ton) was ‘n aansienlike daling vergeleke met die 2006 produksiesyfers van amper 3 700 ton.
‘n Groot bydraer tot hierdie daling was die geweldige droogte wat geheers het in ‘n groot gedeelte van die produksiestreke in die Oos Kaap provinsie. In 2006 was die prys van sybokhaar R78/kg vergeleke met 2018 toe dit R250/kg bereik het.

Probleme met Sybokhaarproduksie

Suid-Afrika ervaar steeds (2018) geweldige druk weens die voortslepende droogte in groot gedeeltes van die sybokhaarproduserende streke. Sommige streke het wel broodnodige reën gekry, maar ‘n aantal produsente spandeer steeds geweldige bedrae geld op aanvullende voer (en die vervoer daarvan) om hul diere aan die gang te hou. Daar is egter ‘n goeie aanvraag na sybokhaar en die markte was stabiel oor die laaste paar veilings.
Van die ander uitdagings in die SA sybokhaarbedryf sluit in onvoldoende hoeveelhede rou materiaal op die regte tye, hoë vervangingskoste van verwerkingstoerusting, beperkte tekstielkundigheid en vaardighede tesame met onbuigbare arbeidswetgewing om seisoenale produksie te akkommodeer.

Translated by Elna Van Rhyn