Suid-Afrika se Geologiese Formasie

© David Fleminger

Die Dominion Groep

Daar word vermoed dat die sedimente van die Dominion-groep ongeveer 3.07 miljard jaar gelede in ’n vallei, wat gevorm het toe die aardkors onder die kraton begin rek het, gedeponeer is. Hierdie depressie is toe oorstroom deur stollingsgesteentes vanaf die mantel. Sommige lae van die Dominion-groep bevat goud deposito’s, wat met mindere sukses ontgin is.

Daar is nie veel meer oor die Dominion-groep bekend nie, aangesien dit alles baie lank gelede gebeur het en daar min plekke is waar die rotse goed bewaar word. In die Vredefort-omgewing word die Dominion-groep byvoorbeeld gekenmerk deur ’n dun laag lawa wat slegs op een of twee plekke sigbaar is.

Nadat die Dominion-groep gevorm is, het dele van die Kaapvaal-kraton afgebreek en enige laagliggende dele is met water oorstroom. Dit het ’n groot, vlak see oor die hele vasteland gevorm en ’n grootskaalse afsetting van sedimente het begin. Op hierdie stadium is dit nuttig om die rol wat water in hierdie proses speel van nader te ondersoek.

Die Witwatersrand Supergroep

Basies vervoer water die geërodeerde sedimente weg van die oorspronklike rots. Die spoed van die water bepaal gewoonlik die afstand wat die sedimente sal beweeg. Wanneer riviere groter watermassas soos ’n meer of die see tref, neem die spoed aansienlik af en baie van die swaarder dele sink na die bodem. Kleiner deeltjies, soos sand en modder, bly langer in die water en is geneig om verder van die kus afgeset te word. Die rede waarom ek jou al hierdie fassinerende dinge vertel sal later duidelik wees.

Sowat 2.97 miljard jaar gelede is verskeie lae sedimentêre gesteentes in die vlak see, wat baie van die hedendaagse Suid-Afrikaanse binneland bedek het, afgeset. Dit word die Wes-Rand Groep genoem en dit het verskeie interessante topografiese kenmerke geskep, soos die naamgewende Witwatersrand-rif wat tussen Germiston en Krugersdorp loop.

Eers later het die kraton ’n bietjie opgelig en die land het in ’n reeks riwwe en valleie verander. Die riviere het nou van die hoogland in die noorde en weste tot in ’n reeks mere en depressies geloop waar die afsetting vinniger was. Die rotse wat gedurende hierdie tydperk gevorm is, word die Sentraal-Rand Groep genoem. Die Wes-Rand Groep en die Sentraal-Rand Groep saam word die Witwatersrand Supergroep genoem.

’n Geologiese Misterie

Die Sentraal-Rand Groep was egter baie spesiaal omdat goud saam met gruis op die rivierbodem afgeset is. Dit het die rykste goudveld op aarde geskep, met byna die helfte van die planeet se goud. Later van tyd sou hierdie gouddraende rotslae (genoem riwwe) met wonderlike sukses ontgin word. Die oorspronklike bron van hierdie goud bly egter ietwat van ’n geologiese raaisel.

Ongeveer 2.7 biljoen jaar gelede het die Kaapvaal-kraton met die Zimbabwe kraton in die noorde gebots. Dit het ’n massiewe bergreeks langs die tans bekende Limpopo Mobiele Gordel geskep. Dit het ook tot ’n groot vloed lawa uit die krake van die kraton gelei wat die rotse van die Witwatersrand Supergroep bedek het. Hierdie lawa vorm die onderste laag van die Ventersdorp Supergroep.

Die Transvaal Supergroep

Omstreeks 2.5 miljard jaar gelede beweeg die Kaapvaal-kraton weer en word dit feitlik deur ’n uitgestrekte binnelandse see oorstroom. Dit het ’n verdere afsetting tot gevolg gehad en was die begin van die Transvaal Supergroep. Dit val ook saam met die einde van die Argeïese Eon en die begin van die Proterosoïese Eon, wat tot 570 miljoen jaar gelede geduur het.

Die Transvaal Supergroep is ’n interessante klomp klippe. Die onderste laag, die Swartrif-formasie genoem, bevat goud. Bo dit is die Chuniespoort Groep. Hierdie laag bevat bewyse van die vroegste lewensvorme op aarde - fotosinterende sianobakterieë. Dit klink nie so indrukwekkend nie, maar hierdie organismes het suurstof as ’n afvalproduk vrygestel en kan verantwoordelik wees vir die verhoging van die suurstof vlak in die atmosfeer. Die suurstof van die sianobakterieë het ook met die seewater gereageer om groot hoeveelhede yster oksiede te skep. Dit het tot gevolg het dat daar groot yster en mangaan afsettings was wat ons vandag nog myn.

Malmani Dolomiet

Die bakteriese kolonies het in vlak water, soos koraalriwwe, gegroei en koolstofdioksied uit die water geabsorbeer. Dit het ’n kalsiumkarbonaat neerslag veroorsaak wat dan die laag bakterieë bedek het. Die bakterieë het weer op die kalsium laag gegroei en die proses is oor en oor herhaal. Hierdie gevormde koepelvormige bakteriese kolonies word later fossiele wat ons stromatoliete noem. Voorbeelde van hierdie versteende stromatoliete is in die Vredefort-gebied geïdentifiseer en is as ’n deel van die Wêrelderfenisgebied gespesifiseer.

Die kalsiumkarbonaat het ook ’n laag rotse wat die Malmani Dolomiet Subgroep genoem word gevorm. Dit is belangrik omdat die dolomiet daarna deur die grondwater wat deur die krake in die rots deurgesyfer het geërodeer is en ’n reeks grotte gevorm het. Later van tyd sou hierdie grotte ’n laaste rusplek vir ons vroeë voorouers soos mev. Ples en “Little Foot” wees. Die bekende fossiele in die Wieg van die Mensdom, Sterkfontein, Makapansgat en Taung, het almal uit hierdie kalksteenlaag gekom. Daar is selfs bewerings dat die Vredefort-Impak ’n hand in die skep van die krake wat tot hierdie grotte gelei het kon hê en ons sodoende gehelp het om die raaisel van menslike evolusie op te los.

Die Bosveldstollingskompleks

Ná die neerslag van die Transvaal Supergroep, was daar ’n dreuning van onder af. Ongeveer 2.06 miljard jaar gelede het ’n reeks ontploffings uitgebreek en die vrede van die sianobakterieë versteur. Die Kaapvaal-kraton is met ’n laag rotse en as bedek. Daarna het ’n groot hoeveelheid stollingsgesteentes opgestoot wat deur die vertikale lae in die sedimentêre Transvaal Supergroep gedring het, maar nie die oppervlak bereik het nie.

Hierdie ondergrondse magma het stadig afgekoel en ’n merkwaardige reeks gesteentes genaamd die Bosveldstollingskompleks gevorm. Dit strek oor die meeste van die Suid-Afrikaanse binneland en is die grootste voorbeeld van sy soort in die wêreld. Die Kompleks bevat ook sommige van die planeet se grootste deposito’s van platinum, chroom, koper, vanadium, titanium en nikkel.

Die Vredefort-bolied

Twee biljoen jaar gelede het die Vredefort-bolied in die rigting van die aarde gekom. Dit was ’n paar kilometer breed en het teen ’n uiters hoë snelheid na die middel van die Kaapvaal-kraton geval. Die impak was ondenkbaar. Die oppervlak rotse is vernietig en die dieper aardkors is blootgestel. Dit gee moderne geoloë ’n seldsame blik op die ou verlede. Die Vredefort-bolied het letterlik ’n groot “indruk” gemaak.

Na die impak het die vorming van nuwe rotse in Suider-Afrika voortgeduur en al die geologiese prosesse wat hierbo beskryf word gebeur vandag nog. ’n Volledige weergawe van die subkontinente se geologie is egter buite die omvang van hierdie boek. In plaas daarvan moet ons nou van die grond af na die wolke kyk vir die grootste enkele energievrystellende gebeurtenis wat die wêreld ooit gesien het.

Translated by Ananda Schoeman