Stap-vir-Stap Formasie van die Vredefort Koepel

© David Fleminger

‘n Ontsaglike Hoeveelheid Energie

Toe die Vredefort vuurbol afgestuur het op die aarde, kon sy spoed enigiets tussen 40 000 en 270 000 kilometer per uur gewees het. Toe dit in die grond vasgeslaan het is ‘n geweldige hoeveelheid energie onmiddellik vrygestel in ‘n ontploffing wat rofweg 5000 keer kragtiger was as ‘Little Boy’, die atoombom wat Hiroshima verwoes het. Daar word geskat dat die impak 14 op die Richterskaal sou gemeet het, of 100 000 keer meer as die ergste aardbewing wat al ooit aangeteken is.
Die bolide of vuurbol het ongeveer 10 kilometer in die aarde se atmosfeer gepenetreer voordat dit ontplof het onder die druk. Dit het gebrand deur die rotse van die Transvaal, Ventersdorp, Witwatersrand en Dominion Supergroepe om die granietfondament van die Kaapse kontinent bloot te lê.

‘Dimension Stone’

Hierdie steilwandige kortstondige krater was onstabiel en het vinnig ineengestort minute na die impak. Die kraterrand het opgebreek in ‘n reeks parallelle terasse, wat weer afgesak het in die diep kom. Binne minute het die krater verwyd tot ‘n vlak, komvorm met ‘n deursnit van ongeveer 300 kilometer. Dit het gestrek vanaf Pretoria tot Welkom en is steeds identifiseerbaar as ‘n reeks konsentriese riwwe (insluitend die Witwatersrand) wat opgelig is deur die impak. Terwyl die rand besig was om ineen te stort, het daar ‘n opwelling in die middel van die krater ontstaan. Dit was omdat die rotse in die episentrum van die impak geweldig saamgedruk is toe die bolide die aarde getref het.
Nadat die vuurbol verdamp het, het die verlaging van druk van bo-af hierdie rotse toegelaat om terug te spring en hul ewewig te herwin. Hierdie verlaging van druk het ‘n gedeelte van die Archeïese graniet toegelaat om deur die jonger rotslae te druk wat bo-op gelê het. Die voorheen horisontale rotslae van die Witwatersrand en Transvaal Supergoepe is dus op hul sye gegooi en omgedop sodat hulle ‘n kraag rondom die stygende massa van ouer oergesteentes gevorm het. Daarna het die opwelling bedaar, maar steeds uitgesteek bokant die rand van die krater. Veel later is hierdie oeroue Vredefort graniet ontgin en gebruik om die pilare van die nuwe binnelandse vertreksaal van die Johannesburg lughawe te versier.

Koepel Bergland

Die gevolglike landskap, gekenmerk deur ‘n sentrale hoër gedeelte omring deur ‘n breë, vlak kom met ‘n gebreekte rand, word ‘n komplekse krater genoem en moet vergelyk word met kleiner, eenvoudige kraters, soos die een by Tswaing. Tegnies kwalifiseer slegs die sentrale hoër gedeelte (oorspronklik ongeveer 100km in deursnee) as die Vredefort Koepel. Die res van die kraterstruktuur word nie deur enige erfeniswetgewing beskerm nie.
Toe die impak plaasgevind het was die grondvlak baie hoër as vandag en oor die afgelope 2 biljoen jaar het die Vredefort Koepelstruktuur erg verweer. In die suid-westelike gedeelte van die krater het nuwe rotse van die Karoo-Supergroep die koepelstruktuur bedek, terwyl ander sedimente die vlak kom rondom die koepel opgevul het. Vandag is die enigste sigbare oorblyfsel van die koepel ’n pragtige halfsirkel parallelle riwwe wat in ‘n boog lê tussen Potchefstroom en Parys. Hierdie merkwaardige geometriese landmerk is duidelik sigbaar op lug-en satellietfoto’s en is nou bekend as die Koepel Bergland.

Translated by Elna Van Rhyn