Lippia Javanica - Middel Teen Insekte

© Alice Notten of Kirstenbosch
Lippia javanica is ‘n aromatiese boom van die Verbena-familie. Dit is 'n bosagtige struik wat 1 m tot 2 m hoog groei en 'n gewilde medisinale- en tuinplant. Dit word gevind in Suid-, Sentraal- en Oos-Afrika. Dit word ook suurlemoenbos, ‘fever tea’, ‘lemon bush’, 'musukudu' (Tswana), 'umsuzwane' (in Zoeloe), 'koor baas' (Afrikaans) en 'mumara' in Sotho genoem. Die olie het ‘n suurlemoenagtige geur wat insekte en knaagdiere afstoot. Wetenskaplike studies oor L. Javanica-olie dui daarop dat die plant antikanker, antidiabetiese, antimalariêre, antimikrobiese en antioksidante eienskappe het.
Die blare, takkies en wortels word in die tradisionele medisyne deur die Xhosa-mense gebruik (wat dit 'insinziniba' noem) as 'n algemene gesondheidstoniek gebruik of, as 'n sterker infusie, om hoes en brongiale infeksies te behandel. ‘n Sterk tee kan as 'n room aangewend word om veluitslag en jeukplekke te heel, asook teen luise en om skurfsiekte te behandel. Dit word gebruik in reinigingseremonies wanneer iemand in kontak was met 'n lyk. Dit bied glo ook beskerming teen weerlig, krokodille en honde. Dit kan gemeng word met Artemisia afra (wilde-als) om koors te behandel en kan longinfeksies voorkom.
Inaseming van die rook van brandende blare en singels kan effektief wees teen asma en chroniese hoes. Die rook verdryf ook muskiete en gekneusde blare gemeng met water word gebruik om van bosluise ontslae te raak. Blare word op die vel gevryf, rondom die ingange van huise of hutte en word in die vuur gegooi om muskiete weg te hou. Stingels en takkies wat gebruik word as beddegoed in pluimvee behuising, verdryf vlooie en myte.
'Imbiza' is 'n gewilde kruieafkooksel wat gemaak word van L. javanica en die Knysna-lelie. Dit word deur die Zoeloe-mense gebruik as 'n immuun-versterker en ook vir die behandeling van kanker, diabetes, MIV/vigs simptome en TB. In Suid-Afrika word Lippia javanica kommersieel gekweek vir essensiële olieproduksie. ‘n Muskietweerende kers wat gemaak word met die essensiële olie, is deur die Council for Scientific and Industrial Research (CSIR) ontwikkel na aanleiding van die tradisionele gebruik van die plant.
Die blare van die Lippia Javanica se oliekliere gee 'n sterk aromatiese geur af wanneer dit gevryf word. Blare en blomme word van die plant gestroop en met stoom gedistilleer om die essensiële olie te onttrek. Dit is dikwels moeilik om 'n konsekwente geurprofiel te kry aangesien die geur wissel tussen suurlemoen, kaneel, bloekom en ment, selfs binne dieselfde spesie. Vir die gebruik in muskiet afweermiddels, moet vervaardigers dikwels die geurprofiel aanpas deur suurlemoengras (‘lemongrass’) of ander essensiële olies by te voeg om die korrekte geur te verkry. ‘Lippia’ groei maklik van sade en steggies. Dit verkies 'n sonnige posisie en is gelukkig in feitlik enige grondsoort. Dit word gekweek asook uit die natuur geoes in die Mpumalanga en Limpopo provinsies.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver