Grond Gesondheid en Plantgesondheid

©GrowingProduce.com

Daar is 'n direkte verband tussen grond en plant gesondheid - wat verduidelik word deur Alan Rosenberg in sy boek Global Health in Crisis - en die antwoord lê in die grond.

Die rede: hoe meer vrugbaar die grond, hoe minder sal plante aanvalle deur plae sowel as erge siektes ervaar. Met ander woorde, hoe gesonder die grond, hoe gesonder sal die plante wees wat daarin groei. Daarom is siektes en peste aanduidings van swak grondgesondheid.

Plantgesondheid

Die teorie van die verhouding tussen gesonde plante en grondgesondheid is ontwikkel deur die Franse bioloog, Francis Chaboussou. Chaboussou het die teorie geformuleer van trophobiosis, wat bepaal dat 'n plaag verhonger op 'n gesonde plant.

Peste floreer op plante waar daar 'n hoë opbou van wateroplosbare suikers, aminosure en minerale in die plantselle is. Gesonde plante het 'n aktiewe metabolisme waar hierdie suikers, aminosure en minerale in die selle gebruik word teen dieselfde tempo waarteen dit vervaardig word. Die plantsel vloeistowwe het daarvolgens dus nie 'n oormaat van hierdie stowwe nie en nie genoeg vir peste om te gebruik as voedsel en om te vermenigvuldig nie.

Die gebruik van landbouchemikalieë ontwrig plantmetabolisme wat lei tot 'n verlangsaming in proteïensintese en 'n opbou van aminosure in die plantselle. Dit maak die plant meer aantreklik vir peste. Die bykomende toediening van stikstof kan ook lei tot 'n oorproduksie van aminosure. Dit is noodsaaklik dat die fokus eerder moet skuif van plantvoeding na grond voeding. Die korrekte grond voeding sal grondmikrobes verhoog, wat op sy beurt grondvrugbaarheid, beskikbaarheid van voedingstowwe en waterinfiltrasie sal verbeter.

Hierdie siening word verder bevestig deur 'n Universiteit van Kalifornië publikasie, Managing Soil Health Can Suppress Pests. Die publikasie sê dat die bestuur vir grondgesondheid 'n integrale deel van plaagbestuur kan word.

Grond Gesondheid

Grond is gesond wanneer biologiese, chemiese en fisiese toestande in balans is, omdat hierdie toestande mekaar beïnvloed. Byvoorbeeld die fisiese toestand van swaar, versuipte grond kan tot die verlies van stikstof lei, wat 'n chemiese toestand is. Nitraat ('n vorm van stikstof) word ʼn molekulêre stikstof en sal verlore gaan in die vorm van stikstofgas (N2). Wanneer plante onder stres is as gevolg van grondtoestande (droogtes, pH, voedingstekorte, kompaksie ens.) sal hul weerstand teen peste en siektes verlaag.

Organiese grond materiaal is die basis van gesonde grond. Gesonde grond wat ryk is aan organiese materiaal het 'n diverse verskeidenheid van grond mikro-organismes wat help met die afbreek van organiese materiaal en die daaropvolgende vrystelling van voedingstowwe aan plante.

Mikro-organismes in die grond kan plante op 'n verskeidenheid van maniere bevoordeel. Sekere bakterieë, soos Bacillus, kan antibiotika uitskei wat plante kan beskerm teen siektes, terwyl ander weer plantwortels se groei kan stimuleer. Erdwurms verminder grondkompaksie terwyl mycorrhizal fungi help met die verbetering van fosfor benutting.

Die eerste stap om gesonde, vooruitstrewende plante te verseker is om gesonde grond te verseker. Dit word gedoen deur die toevoeging van 'n groot hoeveelheid organiese materiaal (kompos, deklaag, plant dekgewasse, ens.) wat 'n verskeidenheid van grondmikrobes ondersteun.

Aanwysers van Grond Gesondheid

©Dinesh Valke

Gesonde plante is 'n duidelike aanduiding van gesonde grond. Gesonde grond ondersteun hoë bevolkings van grondmikrobes. Dit sluit erdwurms en ander grond lewe in.

Erosie en korsvorming van die grondoppervlak na aanplanting dui aan dat daar iets fout is met die grond en dat voedingstowwe (verlore of nie) nie beskikbaar is vir die plant nie.

Translated by Wilma Koeppen