Die Bestuur Van Voëlgriep

© Chris Daly

Hoogs patogeniese voëlgriep is ‘n aanmeldbare siekte en ‘n vermeende uitbraak daarvan moet dus so gou moontlik by ‘n staatsveearts aangemeld word. Versuim om dit te doen is ‘n kriminele oortreding weens die risiko’s daaraan verbonde.

Monsters van dooie sowel as lewende voëls sal geneem word om die diagnose te bevestig en om die stam van die griep te bepaal. Vroeë identifikasie is geweldig belangrik om te verhoed dat die siekte versprei na ander voëls, plase, en indien dit ‘n stam is wat oordraagbaar is, mense.

Bestuur

‘n Plaas waarop daar ‘n vermeende uitbraak is sal onder kwarantyn geplaas word met toegangsbeheer sodat siek voëls nie in aanraking kan kom met kwesbare voëls nie. Weens die afwesigheid van ‘n geneesmiddel, volg die meeste lande, insluitend Suid-Afrika, die roete van “uitwissing”.

Dit behels die doodmaak van alle geïnfekteerde en moontlik besmette voëls, die korrekte opruiming van karkasse en alle diereprodukte, deeglike dekontaminasie van besmette areas, sowel as streng kwarantyn en beheer oor die beweging van pluimvee asook voertuie om verspreiding van die siekte te bekamp.

Die proses vind plaas onder staatsbeheer. Spesiale beskermende klere en toerusting word te alle tye gebruik, selfs al is die stam van die griep nie aan mense oordraagbaar nie.

Daar word van inenting gebruik gemaak in sommige lande om gesonde voëls te beskerm tydens hoogs patogeniese uitbrake of as die siekte endemies geword het.

Dis nog nie toelaatbaar in Suid-Afrika nie weens die negatiewe impak wat inenting op internasionale handel mag hê en omdat inenting die korrekte identifisering van ‘n uitbraak mag bemoeilik.

Sommige Suid-Afrikaanse rolspelers voel egter dat inenting wel toegelaat behoort te word as Suid-Afrika nie produsente kan vergoed vir hul verliese soos die gebruik is in die meeste eerste wêreld lande nie.

Voorkoming

Volgens die Departement van Landbou kan die virus maklik versprei van een plaas na ‘n ander weens die beweging van lewende huishoudelike voëls, mense – veral deur gekontamineerde skoene en klere, en gekontamineerde voertuie, toerusting, voer en hokke. Boere behoort daarom ekstra op hul hoede te wees gedurdende ‘n uitbraak van die siekte om te verhoed dat dit nie na hul plase versprei nie. (Lees meer oor biosekuriteit.)

Produsente wat hul pluimvee buite aanhou behoort dit te oorweeg om die voëls na ‘n veiliger plek te verskuif omdat die virus mag versprei weens direkte kontak met die uitskeidings van besmette voëls – wilde voëls of ander pluimvee – veral mis of gekontamineerde voer, water, toerusting en klere. Ander spesies, soos katte en varke mag ook draers wees van sekere stamme van die virus.

In baie lande wil dit voorkom asof uitbrake van die siekte seisoensgebonde is, veral rondom herfs, en dan verdwyn dit weer soos die klimaat warmer word. Suid-Afrika monitor die siekte onder wilde voëls en op plase sodat daar vining opgetree kan word om ander te waarsku sodra die siekte uitbreek.

Translated by Elna Van Rhyn