Biosekuriteit vir Kleinskaalse Varkboere

© National Pork Board and the Pork Checkoff. Des Moines, IA USA.

Wat is Biosekuriteit?

Biosekuriteit is ‘n stel maatreëls of reëls om te voorkom dat siektes op ‘n plaas beland of dat siektes en siektekieme versprei word op die plaas.

Ernstige Varksiektes

Aansteeklike siektes en baie parasiete kan vinnig versprei van vark tot vark en van varke na ander diere. Afrika varkkoors of varkpes (ASF) en bek-en-klouseer (FMD) is voorbeelde van vernietigende siektes onder varke wat reuse verliese kan veroorsaak. Suid-Afrika het beide hierdie siektes onder ons nasionale varkbevolking wat groot skade aan die uitvoermark veroorsaak. Dit sou erger gewees het as die regering se veeartsenykundige departement nie streng kontrole oor alle aspekte van nasionale biosekuriteit in varkboerdery uitgeoefen het nie.
Daar is regulasies in die Dieregesondheidswet wat vereis dat eienaars van diere buitengewone getalle vrektes in hul troppe moet aanmeld by die kantoor van die naaste staatsveearts.

Hoe word Varksiektes Versprei?

©National Pork Board and the Pork Checkoff. Des Moines, IA USA.
Infeksies versprei op verskilende wyses van dier na dier, maar meestal weens noue kontak of besmetting van die omgewing. Siektes en siektekieme kan ook versprei word deur voer of behuisingsmateriaal. In die meeste gevalle is dit deur kontak met siek of dooie diere, diarree of hoes, nies of deur dieselfde stuk grond, watertoevoer of besmette kos te deel.
Infeksies kan soms versprei na afgeleë plekke of selfs lande deur die uitvoer van vleis en lewende diere.
Onthou dat infeksies en parasiete amper altyd kom vanaf ander varke, mense, skoene, voer, voertuie en peste.

Sommige organismes leef langer as ander, sommige word vernietig deur hitte, ontsmettingsmiddels, plaagdoders of uitdroging, maar dit vereis dikwels herhaalde skoonmaak en tyd (etlike dae) om effektief te wees.

Hoe om ‘n Biosekuriteitsisteem te Skep

©Glenneis Kriel
Die sukses van ‘n biosekuriteitsisteem lê by die varkboere wat verstaan dat hulle varke nie besmet sal raak as hulle weggehou word van ander varktroppe nie. Biosekuriteit op varkplase kan op die volgende wyses geïmplementeer word:
Bou ‘n heining
Omhein jou eiendom deeglik sodat jou varke nie kan uitkom of ander varke van die omgewing nie kan inkom nie. As jou varke in ‘n gebou gehou word, maak seker dat jy die afval, dreinering van afval en skoonmaakwater van die varkhokke op jou perseel hanteer. Gebruik varkmis en varkbeddegoed as kompos binne die heinings van jou plaas.
Weet waar jou varke vandaan kom
Moet nooit nuwe varke in jou trop inbring as jy onseker is oor waar hulle vandaan kom, of as hulle van spekulante afkomstig is nie. Self al bring hulle nie vernietigende siektes en parasiete in jou trop in nie, is daar ‘n goeie kans dat hulle gewone varkprobleme anders sal wees as die van jou varke. (AHT) Raadpleeg jou staatsveearts of plaaslike dieregesondheidstegnikus (AHT) vir inligting.

Hou mense weg van jou varke
Dit sluit in bure, besoekers, verkoopsmense, slagters, spekulante, inspekteurs en regeringsbeamptes. Enigiemand wat ‘n goeie rede het om op die plaas te wees en van plaas tot plaas beweeg, moet toegerus wees met beskermende klere en weggooibare skoene. (Plastiek oorskoene is gerieflik en goedkoop). Dit moet na gebruik op die plaas weggegooi word. Die meeste mense kan hul besigheid weg van die perseel af bedryf.

Voertuie wat gebruik word om varke op te laai, of voer en ander materiaal af te laai, kan dit doen deur ‘n afsonderlike hek in die omheining by ‘n spesiale laaibank. Hierdie laaibank moet die regte hoogte wees vir die voertuig en ook aansluit by die loopplank vir varke aan die binnekant.

Voer en Medisyne vir Varke

©Courtesy of National Pork Board and the Pork Checkoff.
Varke het groot aptyte en is nie kieskeurig oor wat hulle vreet nie, maar hulle sal gesonder wees en vinniger groei indien ten minste die helfte van hulle rantsoen bestaan uit die regte gebalanseerde voer van ‘n koöperasie of voermaatskappy.
As varkboere afvalkos (oorskietkos, kombuisafval en voedselitems wat ouer as die ‘best before date’ is) wil voer, vereis regulasies dat alles eers vir 60 minute gekook moet word voordat dit aan die varke gevoer word. Hoegenaamd geen vark-of pluimvee-afval moet gevoer word nie.

Daar is medisyne en entstowwe wat al deel geword het van roetine varkboerdery en dit kan ‘n voordelige effek op produksie en gesonheid hê. Hierdie produkte is meestal duur en sommige vereis ‘n voorskrif van ‘n konsulterende veearts wat jou trop goed ken.

Waar om Biosekuriteitsinligting te Kry

Inligting oor varke is altyd beskikbaar deur die veeartsenykundige departemente, die Pig Veterinary Society, SA Pork Producers’ Organisation (SAPPO) sowel as die landboudepartemente in elk van die provinsies.
Let asseblief op:
Inligting is slegs gemik op opvoedkundige en inligtingsdoeleindes en mag nie aanvaar word as mediese advies nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling deur jou veearts te vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn