Tilapiaprodukte en Verbruikers van Tilapia

© Walters Art Museum

Tilapiaverbruik groei wêreldwyd en dit word wyd voorgesit in kettingrestaurante, die kleinhandelsektor en op plesierbote, in hospitale en skole. Dit word vars en gevries verkoop (heel, nie geprosesseer), as hoogs geprosesseerde produkte soos parmesaanbedekte porsies en visvingers sowel as ingelegde katkos.

Ander byprodukte uit die tilapiaboerderybedryf is vismeel en visolie. Weens toenemende oorontginning van mariene spesies en die hoë pryse van mariene visolies, mag tilapia ‘n uitstekende plaasvrvanger word van seevisspesies soos stokvis. Tilapia is ‘n kwaliteitplaasvervanger teen ‘n kompeterende prys. Omega-3 olie van tilapia word gebruik om lemoensap te verryk en in Honduras word biodiesel verkry as ‘n byproduk van tilapiaboerdery.

Tilapialeerprodukte

Tilapialeergoedere het ‘n klein industrie van akwakultuur in Brasilië geword. Tilapiavel kan gebrei en gekleur word en word gebruik in leerprodukte soos gordels, beursies en klerasie.

Nog ‘n belangrike byproduk van tilapiaboerdery is kollageen wat verkry word van die binnekante van vishuide; Europese lande het wegbeweeg van kollageen van soogdiere weens vrese vir malkoeisiekte volgens ‘n verslag in 2008 deur die Universiteit van Arizona. Viskollageen kan ook gebruik word vir die voorbereiding van medisyne wat oor tyd heen vrygestel word.

‘n Geïntegreerde medikus-veearts aan die Universiteit van Kalifornië, Davis, het tilapiavelle suksesvol gebruik as verbande om brandwonde op diere te behandel. Hierdie tegniek is ook in Brasilië gebruik toe beperkte bronne dokters genoop het om tilapiavel te gebruik vir veloorplantings op brandslagoffers.

Die Eet van Tilapia in Suid-Afrika

Weens ‘n beperkte vis-eet-kultuur in Suid-Afrika en verbruikers wat onkundig en onbewus is oor tilapia, is die vis nog nie gewild in die land nie. Die grootste tilapia-verbruikers is buitelanders wat In Suid-Afrika woon en welvarendes wat gewoond is aan vis in hul dieet. Tilapia word verkoop deur Woolworths.

Aanvraag na tilapia toon groei, veral omdat dit stokvis kan vervang as gevolg van soortgelyke vleiseienskappe en beter pryse.

Uitvoer van Tilapia

Volgens die Department of Agriculture and Fisheries (DAFF) Aquaculture Handbook 2016, het Suid-Afrika ongeveer 325 ton tilapia ter waarde van R3.5 miljoen in 2015 uitgevoer. Die vernaamste drie uitvoerbestemmings vir Suid-Afrikaanse tilapia was Botswana (196 ton), die Demokrtiese Republiek van die Kongo (79 ton) en China (22 ton).

Die volume uitvoere van tilapia het toegeneem met amper 323% weens ‘n toename in uitvoere en die toename in tilapiaboere in Suid-Afrika.

Translated by Elna Van Rhyn