Rooi Melkhoutvrugte is Hoog in Vitamien C

© JMK
Rooi Melkhout (Mimusops zeyheri) word ook genoem moepel, Mmupudu, umPushane, Nhlantswa en Mubululu en is inheems aan Afrika. Die groot skaduryke immergroen rooi melkhoutboom is inheems aan die noordelike dele van Suid-Afrika en groei in bosagtige gebiede op rotsagtige plekke in klowe en riviergebiede in Limpopo, Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. Die blare word deur wildsbokke en olifante geëet terwyl die vrugte deur ape, bosvarke en mense geniet word.
Die moepel se vrugte is soet en hoog in vitamien C (dit wissel van 50 - 90 mg per 100 g) en is gereed om vanaf April tot Oktober te oes wanneer dit die klewerige melksap (‘latex’) in die vel en onryp vrug verloor. (‘Latex’ is 'n taai melkagtig vloeistof wat deur 'n plant afgeskei word wanneer dit beskadig word.) Die ovaal oranje vrugte kan half-ryp geoes word en sal binne een tot vyf dae ryp word.

Moepel het groot potensiaal in ekonomiese- en voedingsprojekte in droë en semi-woestyn gebiede. 'n Studie om die keuse te bepaal vir die plant van inheemse vrutebome vir huishoudelike gebruik en kommersialisering het die moepel as die gunsteling (92.5%) geïdentifiseer. Dit is in vergelyking met 64% van die boere wat bosappel (‘mobola plum’) sou plant. Boere in alle streke het gevoel dat daar 'n groot behoefte was aan die huishoudelike en kommersialisering van moepel "omdat hierdie vrugtebome skaars in die natuur was, in teenstelling met maroela”.
Moepel vrugte het die potensiaal om vitamine C-tekorte te verminder, veral aangesien die vrugte in die middel van die lente voorkom wanneer bronne van vitamien C in landelike gebiede relatief skaars is. Die vrugte word verwerk tot 'n tradisionele gedroogde pulp genaamd ‘sesema’ wat 'n raklewe het en kan dien as ‘n smaaklike voedsame vrug gedurende die winter.
Die boom word maklik gekweek van sade en verkies rypvrye somerreënvalstreke. Dit het nie-aggressiewe wortels en kan dus naby geboue en op sypaadjies geplant word. Rooi melkhoutbome is ook ryp en droogtebestand en as gevolg van die teenwoordigheid van melksap (‘latex’) het die rooimelkhout nie baie plae nie. Rooi melkhoutbome is geskik vir klei- en leemgronde en snoei is nodig vir optimale vrugteproduksie.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes. Dit mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie, en is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver