Organiese en Anorganiese Bemestingstowwe, Kompos en Mis

Organiese Bemestingstowwe

©Louise Brodie
Organiese bemestingstowwe bestaan uit ontbinde materiaal wat afkomstig is uit lewende organismes wat kompos skep en kan gekombineer word met verskillende soorte mis. Die ontbindingsproses geskied deur die werking van mikroörganismes in die grond wat voedingstowwe in hierdie materiaal skep wat beskikbaar is vir absorpsie deur plante. Organiese bemestingstowwe word toegedien in die natuurlike vorm of korrels. Organiese bemestingstowwe stel hul voedingstowwe stadig vry in die grond en moet daarom lank voordat daar geplant word reeds in die grond wees. Dit sal verhoed dat daar tydperke is waarin die plante of gewasse gebrekkige voeding beleef.
Kompos is die produk van organiese materiale wat gekombineer word en gelaat word om te ontbind.
Misstof is die mis van lewende wesens wat bymekaargemaak en oor die grond gestrooi word om mikroörganisme aksie te bevorder.

Anorganiese Bemestingstowwe

Anorganiese bemestingstowwe/chemiese bemestingstowwe of kunsmis is mensgemaakte kombinasies van elemente en fossielbrandstowwe wat geformuleer en gemaak word volgens die voorgeskrewe ratio’s soos vereis deur verskillende gewasse en toestande. Chemiese bemestingstowwe het ‘n meer onmiddellike reaksie as organiese bemesting en is beskikbaar aan die plant kort nadat dit toegedien is. Dit word normaalweg as korrels of vloeistof toegedien.
Uitermatige gebruik van chemiese of anorganiese bemestingstowwe alleen kan lei tot die opbou van soute en ‘n vermindering van mikrobes in die grond wat uitloging van die grond veroorsaak. Dit kan reggestel word deur organiese materiaal soos kompos of mis toe te dien en groen dekgewasse soos peulgewasse, rog en hawer te plant en dit dan in die grond in te ploeg.
Nota
Die gebruik van ‘n kombinasie van hierdie twee soorte bemestingstowwe is voordelig omdat dit die sterkpunte van elke soort benut terwyl dit die swakpunte van elk uitskakel. Organiese bemestingstowwe beskerm en hou die gesonde struktuur van die grond in stand en die anorganiese bemestingstowwe maak dit moontlik om vinniger en meer presies voedingstowwe aan plante te kan toedien.

Translated by Elna Van Rhyn