Die Opkoms van die Zulu-ryk

© Dr Peter Magubane

Shaka Zulu

In 1787 het Senzangakhona, die jong hoofman van die Zulu (wie se naam afgelei is van een van Malandela se bakleierige seuns), die vader geword van 'n seun wat buite die huwelik gebore is - Shaka. Nadat hy 'n aantal jare in Dingiswayo se weermag diens gedoen het, waar hy uitgeblink het as 'n militêre taktikus en beampte, het Shaka, met sy pa se afsterwe, die Zoeloe-opperhoof geword.

In daardie tyd was die Zulu 'n klein groepie van moontlik net 1500 mense wat Shaka vasbeslote was om op te bou tot die grootste rolspeler in die politieke ontwikkeling van die subkontinent. Van die handjievol mense wat hy kon bymekaarskraap onder die Zulu, het hy 'n embrio weermag geskep wat oor 'n tydperk van 12 jaar gevorm het in 'n gedugte gevegsmag wat uiteindelik die weermagte van voorheen onafhanklike naburige groepe ingesluit het. Deur dit te doen het hy sy klein stammetjie tot die magtigste Zulu-nasie verander.

In 1828 is Shaka deur sy halfbroers Dingaan en Mhlangana vermoor. Na ʼn bitter gekibbel tussen die twee broers en hul ondersteuners het Dingaan die oorhand gekry en die leierskap van die Zulu-ryk oorgeneem. Dingaan het nie die militêre genieskap van Shaka gehad nie, en ook nie die leierseienskappe wat nodig was om sy ryk bymekaar te hou nie. Die nasie het dus begin verkrummel. Rebelse hoofmanne het weggebreek en Dingaan het nie die vermoë gehad om hulle te dwing om terug te keer nie.

Dingaan

Europese setlaars het in toenemende getalle in koloniale Natal gearriveer en het nuwe spanning tydens dié onstuimige tye meegebring. Die Voortrekkers (ontevrede wit boere wat uit die Oos-Kaap geëmigreer het) het die groen heuwels van Natal as hul nuwe Eldorado gesien en hulle het ooreenkomste met Dingaan aangegaan vir die grond waarop hulle hulself kon vestig en om hul plase te begin.

Die Zulu-koning het gevrees dat as dit gebeur, dit die einde van sy troon sou wees en het hy Piet Retief, die Voortrekker gesant wat gekom het om met hom te onderhandel, en sy metgeselle doodgemaak. Hy het ook sy leër gestuur om die vrouens en kinders by die Voortrekker-kampe by verre Bloukrans, naby die hedendaagse Estcourt, dood te maak.

 Diegene wat oorleef het, het gesweer, in 'n verbond met God, om wraak te neem en 'n kerk in Sy eer te bou as hulle 'n oorwinning vermag in die stryd teen die Zulu. Op 16 Desember 1838, op die oewer van die Ncome, wat na Bloedrivier herdoop is, is daar genadeloos en bloedig wraak geneem. Meer as 3000 Zulu krygers is vermoor in die geveg, terwyl slegs die Voortrekkerleier ʼn klein besering opgedoen het.

Die nederlaag was vernederend en die ruggraat van Dingaan se krag is onherstelbaar geknak. Sy leër is uiteindelik verslaan toe Mpande, Dingaan se oorblywende half-broer, wat 'n aansienlike gevolg asook 'n kragtige weermag gehad het, hom op die Maqongqo heuwels naby die Swazilandse grens aangeval het.

Dingaan, nou 'n vlugteling Zulu-koning met 'n handvol van sy volgelinge, het probeer om na Swaziland te vlug, maar is dood voor hy dit kon bereik. Mpande, die langste regerende vors in Zulu geskiedenis, het Dingaan op die troon opgevolg en het oor 'n veel kleiner Zulu-koninkryk van 1840 tot sy dood in 1872 regeer. Dingaan het Mpande as skadeloos beskou, indien nie 'n idioot nie, en het hom gespaar toe hy ontslae geraak het van al sy broers wat teen hom kon opstaan om die troon oor te neem.

Mpande was egter 'n uitgeslape leier wat beide kante van die politieke spektrum gespeel het - die handhawing van 'n waardige maar gekwalifiseerde onderdanigheid aan sy blanke bure in die kolonie van Natal suid van die Thukelarivier, terwyl hy kontrole behou het oor die lojaliteit van sy volgelinge noord van die rivier.

Ná die dood van Mpande het sy seun Cetshwayo in 1872 die nuwe koning geword. Hy was 'n kragtige man wat stadig maar seker die grootste deel van die militêre dissipline wat sy oom Shaka  sowat 50 jaar tevore ontwikkel het, weer ingestel het en weereens het dit 'n oplewing van die Zulu trots en die bepaling van hul noodlot teweeg gebring.

Die idee van 'n militante Zulu nasie noord van die Thukela het skuddings deur koloniale Natal gestuur. Koningin Victoria se beamptes was vasbeslote om Engelse beheer regoor Afrika, vanaf die Kaap tot in Kaïro uit te brei. Zulu krag is beskou as 'n groot bedreiging vir hierdie visie, en oorlog tussen Engeland en die Zulu was onvermydelik.

Dit het begin nadat 'n onmoontlike ultimatum deur die Britte aan die Zulu uitgeryk is wat geïgnoreer is. Die eerste groot botsing was by Isandlwana op 21 Januarie 1879 toe die Zulu die grootste nederlaag wat die Britse leër gely het in sy koloniale geskiedenis uitgevoer het. Die oorlog het geëindig by Ulundi op 4 Julie van dieselfde jaar, toe Cetshwayo se militêre hoofkwartier by Ondini tot op die grond afgebrand is en sy manskappe verslaan is.

Nuwe Administrasie van Zululand

Die Koloniale Kantoor het die administrasie van Zululand oorgeneem en dadelik die vermindering van die krag van die koninklike huis bewerkstellig deur politieke mag tussen 13 onafhanklike kapteinskappe te verdeel. Dit het gelei tot 'n smeulende burgeroorlog, 'n tydperk van volgehoue ​​twis en die verhoging van ingryping van die koloniale administrasie van Natal in die regering en beheer van Zulu sake.

Met die koms van die Unie in 1910 en wit beheer oor die hele Suid-Afrika, het die Zoeloe-koning se hoop op staat erkenning heeltemal afgeneem. Die status van Cetshwayo se seun, Dinuzulu, en sy kleinseun, Salomo, is verminder tot dié van 'n gewone hoofman, belas met bietjie meer as beheer oor 'n klein area van wat eens die Zoeloe-koninkryk was.

Dit was eers in die 1950's dat die Nasionale Party-regering koning Cetshwayo se agterkleinseun, Cyprianus, as koning van die Zulu aangestel het. Maar die huidige koning se magte is in wese slegs simbolies. As sodanig, dra hy 'n heilige byl (inhlendla) op belangrike staats geleenthede, en regeer hy oor sleutel rituele, onder hulle die jaarlikse Rietseremonie wat eers in 1984 bekend gestel is.

Translated by Wilma Koeppen