Large-Spotted Genet
Grootkolmuskejaatkat

© Nigel Dennis

Naam

Grootkolmuskejaatkat [Genetta tigrina] ook bekend as rooikolmuskejaatkat

Voorkoms

Die grootkolmuskejaatkat het ’n skouerhoogte van 210 mm maar kort beentjies. Die langwerpige lyf het 'n lengte van 460 mm en ’n massa van 1.6 kg. Die dik, swart en witterige grys geringde stert is 400 mm lank. Kloue is kort, gedeeltelik intrekbaar en ’n hulpmiddel om te klim. Geen seksuele dimorfisme is voor die hand liggend nie. Rye rooierige kolle omring met swart bedek die bruin rugkant.
Die swart ringe word lyne op die nek. Die maag is witterig. Die grootkolmuskejaatkat het wit kolle rondom die mond, neus en onder die oë. Die grootkolmuskejaatkat kan verwar word met die kleinkolmuskejaatkat, die grootste verskil is die witpuntige stert van laasgenoemde in vergelyking met die swartpuntige stert van die grootkolmuskejaatkat. Nog ’n verskil is die swart kolle van die kleinkolmuskejaatkat wat sonder ’n roesbruin middel is.

Dieet

Die grootste deel van die dieet bestaan uit knaagdiere en ander klein soogdiere en insekte, terwyl voëls, slange en amfibieë sekondêre prooi is. Ongewerweldes maak slegs ’n klein gedeelte van die dieet uit. Hulle sal ook vrugte inneem.

Voortplanting

Gewoonlik vind paring gedurende die warm maande plaas. Die grootkolmuskejaatkat kry ’n gemiddeld van drie kleintjies per werpsel na ’n dratyd van ongeveer 70 dae. Aanduidings is daar dat die kleintjies in lêplekke wat bo die grond gemaak is bly totdat hulle gespeen word.

Sosiale Gedrag

Hulle is alleenlopers en kom slegs gedurende die paring seisoen in groepe voor. Goed beboste en klam gebiede is verkieslike habitatte. Sekere digte plantegroei vir skuiling en nabyheid aan water is ’n noodsaaklike habitat vereiste.

Verspreiding

Die grootkolmuskejaatkat kom in Suid-Afrika vanaf die suidelike en oostelike kus, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Noordelike Provinsie en die buurlande voor.

Veldnotas

Die grootkolmuskejaatkat se dieet is uiteenlopend en hulle is bekend daarvoor om gras te eet wat help met spysvertering en om braking op te wek wat sodoende help om gifstowwe wat hulle ingeneem het ontslae van te raak.