Hoe Meteore die Aarde Impakteer

© David Fleminger

Interplanetêre Projektiele

As ‘n mens op ‘n donker nag na die ruimte kyk, lyk alles baie vreedsaam. Sterre vonkel in die helder, swart hemelruim en die onmeetlike leegheid van die ruimte strek oor jou kop heen. Maar die realiteit is ‘n heel ander storie. In werklikheid word die aarde met ‘n konstante stroom ruimtemateriaal gebombardeer, meestal afkomstig van die ateroïdegordel tussen Mars en Jupiter. Hierdie aanslag is onophoudelik en hoewel die aantal interplanetêre projektiele waarskynlik vandag baie minder is as toe die aarde gevorm is, word dit beraam dat 30 000 ton interplanetêre afval steeds jaarliks ons atmosfeer binnekom.

Die meeste van hierdie stukkies afval, verhit tot hoër as hul smeltpunte deur die lugweerstand, verbrand soos hulle deur die atmosfeer kom. Die helder lig wat uitgestraal word deur hierdie voorwerpe, maak hulle sigbaar as meteore, of verskietende sterre. As ‘n meteoor groot genoeg is, mag ‘n gedeelte daarvan die hitte oorleef en dit land dan op die aarde as ‘n meteoriet. Die grootste meteoriet wat tot dusver gevind is, is die Hoba meteoriet wat in 1920 ontdek is. Dit het meer as 80 000 jaar gelede die grond naby Grootfontein in die noorde van Namibië getref, en is nog nooit beweeg nie. Hoba, amper drie vierkante meter groot en een meter hoog, is ‘n soliede stuk yster en nikkel.

Groot Impakte

Maar wat as iets regtig groots op die aarde afstorm? Wat sou gebeur as ‘n bolide van tussen 10 en 20 kilometer in deersnee die grond tref? Studies van vroeëre impakte skets nie ‘n mooi prentjie nie.

Dit lyk asof groot impak-gebeurtenisse die potensiaal het om nie net die impakterrein nie, maar die hele planeet te vernietig. Reusagtige aardbewings, titaniese tsunamis en vloede van vulkaniese aktiwiteite as gevolg van die impak, sal alle lewe op aarde vernietig. Boonop kan reusagtige hoeveelhede stof en afval wat die atmosfeer ingeblaas word, die son totaal verduister sodat die planeet in ‘n katastrofale winter wat maande of selfs jare kan duur, gedompel word. Kortom, daar word veronderstel dat impakgebeurtenisse uitsterwings op globale skaal kan veroorsaak.

Uitswissing

Uitsterwing is ‘n natuurlike gedeelte van die evolusieproses. Oor biljoene jare het ontelbare spesies uitgesterf weens klimaatsveranderinge, natuurrampe en kompetisie met ander spesies. Dit word as normale uitsterwing beskou en duur vandag nog voort – aangehelp deur die moderne mens soos wat hulle die planeet plunder. Daar word beraam dat, onder normale omstandighede, tussen twee en vyf taksonomiese families elke miljoen jaar sal uitsterf, maar met ‘n bietjie meer besoedeling, mag ons daardie gemiddelde dalk nog verbeter.

Nietemin, die fossielrekord dui aan dat daar op sekere geleenthede in die verlede massauitwissings plaasgevind het waartydens ‘n aansienlike persentasie van al die lewe op aarde plotseling verwyn het. Dit word soms grensgebeurtenisse genoem en bewyse bestaan in diskontinuïteite in beide rotse en fossiele, waar een vorm van lewe skielik vervang is deur ‘n ander. Hierdie grensgebeurtenisse is gewoonlik sigbaar in rotslae uit dieselfde tydperk op verskeie plekke regoor die planeet.

Massauitsterwings

Omdat ons op die fossielrekord staatmaak om hierdie grense te identifiseer, kan die vordering van massauitwissings eers waargeneem word na die vinnige vermeerdering van lewe in die Kambriese tydperk, ongeveer 550 miljoen jaar gelede (Ma). Sedertdien het daar vyf groot massauitwissings plaasgevind: die End-Ordovisiese oorgang (444 Ma: 84% spesies tot niet), die laat (360 Ma: 79% spesies tot niet), die End-Permiese (250 Ma, 95% spesies tot niet – die planeet se ergste massauitwissing), End-Trias (200 Ma, 79% spesies tot niet) en die End-Kryttydperk (65 Ma, 70% spesies tot niet).

Sommige moderne navorsers beweer verder dat ons tans in die greep van nog ‘n massauitsterwing is, die vinnigste een nog opgeteken. Aangehelp deur ons gevoellose hantering van die omgewing, kan hierdie sogenaamde Holosene uitsterwingsgebeurtenis beteken dat tot die helfte van die spesies wat leef op aarde, uitsterf binne die volgende 100 jaar (volgens een besonder negatiewe wetenskaplike).

Uitgewis!

Die oorsake van hierdie massauitsterwings is moeilik om te bepaal. Slegs een, (die End-Kryttydperk, of K-T Grens) is definitief verbind met ‘n impak-gebeurtenis. Die ander het ‘n meer onseker oorsprong aangesien geen ooreenstemmende impakstrukture tot dusver gevind is nie. Afgesien van impakte, sluit voorgestelde oorsake in: klimaatsverandering (soos ystydperke), reuse vulkaniese gebeurtenisse (wat die atmosfeer vergiftig), gammastraal uitbarstings (wat die lewende organismes op die oppervlakte gaarmaak) en plaat tektoniek (wat kontinente bymekaar mag bring en voorheen geïsoleerde spesies lewe bymekaar mag bring en so skielik nuwe spesies tot stand bring).

Dit word egter as onwaarskynlik beskou dat slegs een van hierdie hipoteses alleen vir al die massauitsterwingsgebeurtenisse verantwoordelik kon wees en ‘n kombinasie van faktore is ‘n meer waarskynlike gevolgtrekking. Navorsing het in elk geval getoon dat massauitsterwings op ‘n sikliese basis plaasvind, dalk so dikwels as elke 30 tot 60 miljoen jaar. Dit moet ook genoem word dat net omdat ons nie betekenisvolle bewyse het van ‘n massauitsterwingsgebeurtenis voor 500 Ma het nie, dit nie beteken dat dit nie plaasgevind het nie.

Voor die Kambriese periode was lewe baie elementêr, en het bestaan uit eenvoudige vorme soos bakterieë, brachipodes en trilobiete. Hierdie klein organismes laat nie ekstensiewe fossiele na nie, en is dus moeilik opspoorbaar. Verder is rotse wat ouer is as 600 miljoen jaar baie raar, omdat hulle herbruik word in die tektoniese proses. Dit verwyder die bewyse van grenslae wat dalk periodes van globale krisis mag aandui. Dis dus redelik voor die hand liggend dat selfs al was daar komplekse leefvorme op aarde ten tye van die Vredefort impak, hulle vernietig sou gewees het!

Translated by Elna Van Rhyn