By-verwante Produkte as Medisyne

© Ruffiana
Apiterapie is die gebruik van by-produkte in die behandeling of voorkoming van siektes. Volgens die Amerikaanse Apiterapievereniging, sluit hierdie by-verwante produkte heuning, stuifmeel, byebrood, prinsesselei en byegif in.

Stuifmeel as ‘n Aanvulling vir Mense

Die gebruik van stuifmeel as ‘n aanvulling vir menslike gesondheid en selfs vir medisinale doeleindes is kontroversieel. By-stuifmeel wat beskikbaar is by gesondheidswinkels word versamel deur ‘n byeboer met ‘n stuifmeelstrik. Dit skraap die stuifmel van die bene van die bye af wanneer hulle die korf binnegaan. Dit verminder dus die beskikbare stuifmeel waarmee bye hul kleintjies voer.
Min navorsing is nog gedoen oor die voedingswaarde van rou stuifmeel vir gebruik in menslike voeding, maar stuifmeel word wel gebruik weens terapeutiese eienskappe soos anti-inflamatories en anti-kanker. Turkse studies (in vitro) het bewys dat stuifmeel ‘n antibakteriese aktiwiteit het wat weerstand teen infeksie kan verhoog.
Volgens die Verenigde State se Food and Drug Administration (FDA) is “pollen (is) not the richest source of protein known to science. The major constituent of pollen is carbohydrates (over 60%), not protein – varying according to the source of pollen.”
Die voedingswaarde van stuifmeel word dikwels evalueer volgens die konsentrasie van proteïene en essensiële aminosure. Sommige soorte stuifmeel mag ‘n hoë voedingswaarde hê, terwyl ander minder het. Die Apis Information Resource Centre sê: “when compared to supplements such as vtamin/mineral tablets, pollen contains much lower levels of these micronutrients than the supplements…(and) should not replace good dietary and health practices.”
Potensiële kontaminasie van stuifmeel deur swaar metale of insekdoders mag nog ‘n bekommernis wees vir menslike gebruikers van stuifmeel en stuifmeel-verwante produkte.

Byebrood as Aanvulling vir Mense

Bye vervaardig byebrood van stuifmeel, nektar, verteringsensieme en heuning. Die mengsel word dan in ‘n sel verseel om te gis. Die gisproses breek proteïene en stysels af en maak vitamiene meer bio-beskikbaar. Die gevolglike ‘byebrood’ word aan larwes en jong bye gevoer as ‘n proteïenryke voedsel. Byebrood het ‘n ander (en verbeterde) voedingswaarde in vergelyking met rou stuifmeel en word beter verteer deur die menslike liggaam.

Byewas as Medisyne

©Frank Mikley
In 400 BC het Hippokrates, ‘n antieke Griekse dokter, die voordele van byewas om velsiektes te verlig, bevestig. Byewas word aansienlik meer in moderne medisyne gebruik. Afgeskei in die vorm van skubbe deur jong werkerbye, word byewas gebruik in die bedekking van medikasies en word ook byvoorbeeld gebruik in velrome, seep, oorpluisies teen geraas, in die tandartsbedryf en in steke om bloeding te beheer tydens beenoperasies.

Prinsesselei – Fantasties of Vergesog?

Prinsesselei is ‘n wit, pasta-agtige afskeiding van die ‘mondkliere’ van werkerbye en word gevoer aan die larwes en die koninginby. Die vernaamste gebruik van prinsesselei is in skoonheidsprodukte maar dit word ook gebruik as ‘n dieetkundige aanvulling.
Prinsesselei kan vars verkoop word, of gemeng met ander produkte soos joghurt, of gevriesdroog word. Dit het ‘n skerp reuk, suur smaak en die samestelling van ‘n redelike vloeibare pasta. Weens die lang lewensduur en vrugbaarheid van die koninginby, word daar aangeneem dat prinsesselei soortgelyke voordelige gevolge vir mense kan hê. Dié aanname kon ten spyte van etlike studies, nog nie bevestig word nie.

Baie studies is al gedoen oor die effekte van prinsesselei op mense, veral in Oos-Europa, maar die wetenskaplike waarde van die resultate is moeilik om te evalueer. ‘n Japannese studie het verbeterde glukose verdraagsaamheid, geestesgesondheid en ‘n toename in die vervaardiging van rooibloedselle getoon. In vitrostudies het getoon dat prinsesselei antibiotiese aktiwiteit het, maar dit neem af met verkeerde of langtermyn bewaring.

Propolis/Byebrood as Medisyne

©Onésime
Propolis is ‘n taai, ‘byegom’ wat die bye maak van boomgom en word gebruik om die binnekant van die byekorf glad te maak, om krake te verseël en om te steriliseer. Ook bekend as “Russiese penisillien”, word byebrood in baie lande gebruik waar antibiotika nie geredelik beskikbaar is nie. Dit het antioksidant, antibakteriese, antivirale, antifungus, anti-tumor en anti-inflammatoriese eienskappe. Dit word gebruik om infeksie van wonde te voorkom, om mond en tandevleissere te genees, kraakbeen te hernu, inflammasie binne die are te verminder en om maagsere te genees, volgens Poolse en Duitse studies. Propolis word ook gebruik om bedsere en chemiese, hitte en bestralingsbrandwonde te genees.

Byegif as Anti-inflammatories

Heuningbygif is ‘n helder, bitter, kleurlose vloeistof wat ‘n mengsel van proteïene bevat wat plaaslike inflammasie veroorsaak en bloed verdun. Dit word al vir eeue gebruik en is veral gewild in China en Oos-Europa waar dit hoofsaaklik gebruik word vir chroniese inflammatoriese siektes. Dit kan ingespuit word of as ‘n room aangewend word om inflammasie te verminder in siektes soos atritis, veelvuldige sklerose, lae rugpyn en tenniselmboog.
Byegif word verkry deur ‘n elektriese stroom deur gaas te stuur wat in die korf geplaas word. Dit ontstel die bye wat veroorsaak dat hulle die gaasdraad steek, vanwaar die gif bymekaar gemaak word. Bye word nie skade aangedoen in die proses nie.

Mediese Vrywaring

Let asseblief op: Inligting is vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes alleenlik en mag nie gesien word as mediese advies nie. Die inligting is nie veronderstel om mediese advies of behandeling deur gesondheidsorgspesialiste te vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn