UNESCO en die Wieg van die Mensdom

‘n Wêreld Erfenisgebied

©David Fleminger

Die Wieg van die Mensdom (of COH/Cradle of Humankind, soos ek dit sommer noem), is in 1999 opgeneem in die World Heritage List as ‘n gebied van kulturele betekenis, of gebied 915 vir jou. 

Dit het aanvanklik ongeveer 20 grotte ingesluit binne ‘n area van 47 000 hektaar (asook ‘n addisionele 80 000 hektaar wat dien as ‘n buffersone teen predatoriese ontwikkeling). Die area is gefokus op die grotte van Sterkfontein, Kromdraai en Swartkrans wat ongeveer 45 kilometer noord-wes van Johannesburg geleë is. ‘n Buitengewone aspek van hierdie Wêrelderfenisgebied is dat die meeste van die grond in die Wieg steeds in privaatbesit is, alhoewel die Sterkfonteingrotte aan die Universiteit van die Witwatersrand behoort nadat dit aan hulle geskenk is deur die plaas se oorspronklike eienaars. 

Baie Gautengers is deesdae bewus van die Sterkfonteingrotte weens vervelige skooluitstappies na die redelik vervalle besoekersentrum by die grotte en hulle mag nogal verbaas wees dat die Wieg so ‘n sterk respons ontlok het van die gewoonlke stoïsynse UNESCO komittee. Daar is egter wel baie om oor opgewonde te wees.

Waaroor die Opwinding

©David Fleminger

Soos die komitee van kenners van ICOMOS (nog ‘n akroniem, wat staan vir Internasionale Raad van Monumente en Terreine) bevind het in hulle evaluasie: “Hierdie groep terreine is een van die belangrikstes in die wêreld vir die verstaan van die evolusie van die moderne mens (Homo sapiens sapiens) vanuit sy voorvaders. Hulle het ‘n rykdom van hominiede fossiele, waarvan die oudstes dateer tot 3.5 miljoen jaar gelede, opgelewer, tesame met hul gereedskap en fossiele van die kontemporêre fauna. Navorsing oor die afgelope sestig jaar het ‘n beduidende rol gespeel in die vestiging van Afrika as die Wieg van die Mensdom. Die potensiaal vir verdere betekenisvole ontdekkings is geweldig groot.”

Dit alles was genoeg om te voldoen aan twee van die tien kriteria vir Wêrelderfenisstatus:

Om unieke of ten minste buitengewone bewys te lewer van ‘n kulturele tradisie of ‘n beskawing wat nog bestaan of wat verdwyn het;
Om ‘n uitstaande voorbeeld te wees van ‘n soort gebou, argitektoniese of tegnologiese ensemble of landskap wat (a) betekenisvolle stadiums in menslike geskiedenis illustreer;

Danksy die Wieg se inskrywing in die UNESCO lys, beleef die area nou ‘n soort hergeboorte. Die nederige besoekersentrum by die Sterkfonteingrotte is aansienlik opgradeer en daar is nou ‘n restaurant, uitstekende museum en verbeterde toere deur die grotte. Owerhede het ook ongeveer R300 miljoen spandeer op ‘n hipermoderne besoekersentrum, genaamd Maropeng, naby die grotte. Hier kan besoekers meer uitvind omtrent evolusie terwyl hulle lieflike uitsigte oor die Wieg geniet.

Maar die werklik opwindende aspek van die Wieg is dat dit nog grootliks ‘n werksterrein is, en dat vele oeroue geheime steeds begrawe lê, wagtend op iemand om hulle te ontdek. Letterlik dosyne wetenskaplikes, argeoloë en paleoantropoloë is konstant besig met opgrawings in die area waar hulle rare en misterieuse fossiele (beide hominied en soogdier) ontdek wat bydra tot ons gebrekkige verstaan van die oorsprong van lewe op aarde.

Die Wieg Uitgebrei

©David Fleminger

In 2005 is die benaming “Wieg van die Mensdom” uitgebrei om ook twee aangrensende terreine wat verbonde is aan die Sterkfonteingrotte, maar nie geografies aaneelopende daarmee is nie, in te sluit. Hierdie terreine is die Taung Steengroef naby Kimberley en Makapansgat naby Pietersburg/Polokwane. Beide hierdie terreine bestaan uit dieselfde rotsneerslae as Sterkfontein (geklassifiseer as deel van die Transvaal Supergroep), en beide bevat fossielmonsters wat bevestig dat hominiede ononderbroke in die area gewoon het vir ‘n byna 3 en ‘n halfmiljoen jaar gelede, indien nie langer nie.

Moontlik die beste ding voortspruitend uit die verklaring van die Wieg van die Mensdom as ‘n Wêrelderfenisgebied, is dat dit die owerhede verplig het om goedbeplande en werkbare bestuursplanne in plek te stel wat sal verseker dat die gebied bestuur word volgens volhoubare en sosiaal-bewuste beginsels. Daar is byvoorbeeld beleide wat die natuurlike skoonheid van die area sal beskerm terwyl dit verantwoordelike ontwikkeling toelaat. ‘n Skema wat deelname van die gemeenskap toelaat, word ontwikkel sodat werk geskep word wat behuising insluit, en sodat plaaslike inwoners direkte voordele kan ervaar weens die toename in toerisme. 

Vennootskappe met die regering en besighede word gesluit om te verseker dat die Wieg in staat is om finansieel volhoubaar te bly. Dis goeie nuus en kan dien as ‘n voorbeeld vir ander Suid-Afrikaanse toerisme inisiatiewe in die toekoms. Daar is altyd ‘n baie fyn lyn tussen bewaring en skending waarop toerisme beweeg en as dinge nie verantwoordelik hanteer word nie, bestaan die gevaar dat ons juis dit waarna mense kom kyk, sal vernietig.

Translated by Elna Van Rhyn