Waterbronne, Stoor, Kanalisering en Pomp

Waterbronne

©Louise Brodie
Alle water bereik die oppervlakte van die aarde deur verskillende tipes neerslae soos sneeu, reën, hael, ysreën of mis. Die twee vernaamste bronne van water wat ons gebruik vir landbou en huishoudelike gebruik, is oppervlakte water wat gekanaliseer word op die oppervlakte van die aarde in strome en riviere tot waar dit benut word, en ondergrondse water wat in waterdraers en skeure onder die aarde beweeg totdat dit weer natuurlik die oppervlakte bereik, of deur menslike toedoen soos boorgate.

Die Stoor van Water

©Louise Brodie
Water word gestoor in damme en van daar gepomp of deur middel van gravitasie gelei tot waar dit vir besproeiing van lande gebruik word. Verliese weens verdamping kan aansienlik wees as damme groot oppervlaktes het. Ondergrondse water word of gepomp van honderde meter onder die grond na damme en van daar af gebruik vir besproeiing, of dit word direk uit die grond op die landerye gepomp. Ondergrondse water kan ook vanself die oppervlakte bereik en fonteine vorm. In sommige gevalle vorm natuurlike mere as gevolg van fonteine of waar riviere uitsprei oor plat terrein waar die topografie dit toelaat.

Kanalisering van Water

©Eric Miller
Water word gekanaliseer deur middel van oop vore, kanale of pypleidings na waar dit gestoor en gebruik word. Die krag wat die water laat beweeg is óf gravitasie óf die water word gepomp.
Dis baie beter om water deur middel van pype te gelei as om dit in oop vore of kanale te gelei, as gevolg van verdamping en water wat deur die grond geabsorbeer word.

Pomp van Water

©Louise Brodie
Die meeste pompe waarmee besproei word, word aangedryf deur elektrisiteit, petrol of diesel. Daar is twee hooftipes pompe; sentrifugale en verplasingspompe.

Verplasingspompe werk as gevolg van water wat die pompkamer binnevloei deur die opening en dan verplaas word deur ‘n klep of diafragma wat in die pompkamer ingepers word. Dit druk die water by die die pompkamer uit deur die uitgang. Die water in die drukkamer word beheer deur twee opponerende terugslagvoerkleppe. Die druk kan verkry word op verskeie maniere soos deur stoom, lug en diesel, of in die geval van hidroliese pompe, deur die kinetiese energie opgewek deur die water self.

Vir besproeiingsdoeleindes word hoofsaaklik sentrifugale pompe gebruik. ‘n Sentrifugale pomp het ‘n stuwer met koppies in die middel wat die water opvang en dit dan vinnig in die rondte draai binne die pompkamer. Deur die sentrifugale krag word die water van die middel van die stuwer beweeg na sy buiterande en uitgekanaliseer deur die uitlaat van die pomp in die uitlaatpyp.

Translated by Elna Van Rhyn