Wat is Propolis?

© Chris Daly
Byebrood, ‘bee putty’ of bee glue’ is ‘n taai, groenerig-bruinkleurige stof wat bye maak van boomgom of hars wat hulle versamel van blaarbotsels en boomsap. Bye maak byebrood deur die versamelde harse te meng met byewas, heuning en spysverteringsensieme uit hul mae.
Byebrood is die derde mees belangrike komponent van byeprodukte en bestaan uit hars (50%), was (30%), essensiële olies (10%), stuifmeel (5%) en ander organiese samestellings (5%). Dit bevat ook belangrike vitamiene soos vitamiene B1, B2, B6, C en E sowel as minerale soos magnesium (Mg), kalsium (Ca), kalium (K), natrium (Na), koper (Cu), sink (ZN), mangaan (Mn) en yster (Fe).
Meer as 300 samestellings is geïdentifiseer in byebrood, waarvan die meerderheid voorkom in die vorm van polifenole (antioksidante). Antioksidante help om siektes te beveg en beskerm teen infeksie in die liggaam.

Waarvoor word Byebrood Gebruik?

Deur die binnekant van die korf te bedek met byebrood, maak bye seker dat die korf beskerm is teen die verspreiding van bakterieë en fungi. Byebrood steriliseer en ontsmet dus die korf en is van die kragtigste antimikrobiese stowwe wat in die natuur aangetref word.
Heuningbye gebruik ook byebrood om hul immuunstelsels te versterk en gebruik dit om die binnekante van die broeiselle uit te voer voordat die koningin haar eiers lê. Hulle gebruik ook byebrood as boumateriaal om die ingang van die korf nouer te maak sodat dit makliker verdedigbaar is.
Byebrood word ook gebruik om dooie indringers of peste te balsem en daardeur te verhoed dat dit die korf besmet. Om dieselfde rede is byebrood deur die antieke Egiptenare gebruik om mummies mee te balsem.
Mense benut ook byebrood vir die antibakteriese en anti-inflammatoriese eienskappe daarvan, en om die immuunsisteem te versterk. Dit kan aangewend word as ‘n velroom vir die behandeling van ekseem en psoriase, of gebruik word in seep en skoonheidsmiddels. Dit kan geëet word in die vorm van byebrood-verrykte heuning of in vloeistof- of tabletvorm ingeneem word. Byebrood kan gekoop word in apteke, gesondheidswinkels of direk vanaf byeboere.

Propolis/Byebroodproduksie in Suid-Afrika

Hoewel byebrood in Suid-Afrika geproduseer en verkoop word, is dit maar min. Mike Allsopp, hoof navorser by die Honeybee Research Section of the Agricultural Research Council (ARC) in Stellenbosch, verduidelik: ‘Daar was al verskeie pogings om byebroodproduksie in Suid-Afrika te kommersialiseer – ten minste een MSc graad is al daaroor gedoen – maar Suid-Afrika was nog nooit in staat om die hoeveelhede te produseer wat noodsaaklik is vir intenasionale markte nie. Suid-Afrikaanse byebrood is van hoogstaande kwaliteit en baie gesog, maar internasionale handelaars vereis baie groter hoeveelhede as wat Suid-Afrikaanse byeboere kan lewer. Dis nogtans ‘n veld wat verder kan ontwikkel word in Suid-Afrika.
‘n Byeboer mag in staat wees om een kilogram byebrood per jaar te produseer, maar dit is ten koste van sy bye. Alle byebroodproduksie benadeel heuningproduksie omdat byebroodproduksie nie ‘n addisionele voordeel is nie, dit geskied in stede van heuningproduksie – bye wat werk om byebrood te maak, produseer nie heuning nie.
Suid-Afrikaans byebrood word nie bestraal nie, maar ingevoerde byebrood (vir die vervaardiging van rome en aftreksels) sal bestraal wees.

Mediese Vrywaring

Let assblief daarop dat inligting vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes bedoel is en nie as mediese advies gesien moet word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling deur professionele gesondheidsdienste vervang nie.

Translated by Elna Van Rhyn