Wat is Blaarvoeding?

© Roger de la Harpe

Blaarvoeding is ‘n hoogs doeltreffende manier om voedingstowwe aan plante te voorsien. Dit word gedoen deur ‘n sproeier wat oplosbare minerale as ‘n fyn mis op die blare toedien.
Blaarvoeding word meer effektief geabsorbeer as grond-toegediende voedingstowwe (studies wys tussen agt en 20 keer meer absorpsie) en verkom probleme wat soms met wortelabsorsbsie ondervind word soos kompaksie van die grond, voedingstowwe wat gebind is (‘nutrient tie-ups’) en uitloging van voedingstowwe.
Voedingstowwe word deur die stomata geabsorbeer. Stomata is openinge in die blare, amper soos sweetgaatjies in die mens se vel. Stomata kom ook op die stingels en stam van die plant voor en sal selfs in die dormante winterseisoen voedingstowwe kan opneem. Die meeste stomata kom aan die onderkant van die blare voor en die beste absorpsietyd is wanneer die plant aktief groei - vroeë groei net voor blom, by veraison (wanneer vrugte/groente begin verkleur) en net voor rypword.
Blaarvoeding word gebruik om die basiese vrugbaarheidsfunksies te versterk. Dit sal die plant dwing van groei tot vrugset, die verlig plantstres wanneer daar insek of weerstres is, voorkom uitloog van minerale gedurende reën en help met ekstra weerstand teen insekte en siektes deur die Brix telling* te verhoog. Dit verhoog ook die voedingswaarde van die plant soos aangedui deur studies in Pakistan op koring. Verder het blaarvoeding tesame met endofitiese bakterieë (bakterieë wat in plantweefsel ingroei sonder om skade aan te rig) aangedui dat bio-fortifikasie van koring deur essensiële voedingstowwe kan help om wanvoeding te bekamp.
Alle voedingstowwe word maklik geabsorbeer, maar die beweeglikheid van minerale binne die plant, verskil baie. Stikstof (N), fosfor (P), Kalium (K), koper (Cu), Mangaan (Mn) en Sink (Zn) word maklik getranslokeer na ander dele van die plant, maar minerale soos kalsium (Ca), Magnesium (Mg), Boor (B), yster (Fe) en molibdeen (Mo) beweeg nie maklik nie, maar aminosuur-gecheleerde kalsium is die enigste vorm van kalsium wat vanaf die blare afwaarts tot in die plant se reproduktiewe dele sal beweeg, verduidelik Dr. De Buys Scott, landbounavorser van die Landbounavorsingsraad se Kleingraan-instituut. (Kalsium is ‘n belangrike bousteen van selwande en kan raklewe beïnvloed.)
Blaarvoeding word die beste geabsorbeer wanneer dit as ‘n baie fyn mis (onder baie hoë druk) gespuit word. Hoe kleiner die druppelgrootte, hoe beter die absorpsie. Die klein haartjies rondom elke stomata sal die voedingstowwe binne elke druppeltjie aantrek.
Gebruik goeie kwaliteit water andersins kan absorpsieprobleme ondervind word met water hoog in natrium (Na) of ‘harde water’ (hoë kalsium). Voeg ‘n surfaktant by sodat die oplossing beter aan die blaar kleef. Dit verhoog absorpsie deur te voorkom dat die waterdruppel ‘n ‘balletjie’ vorm en moeilik geabsorbeer word.
Die beste absorpsie is met ‘n oplossing se pH is tussen 5.5 en 6.5. Verlaag die pH met appelasyn of verhoog dit deur koeksoda by te voeg. Die beste tyd vir spuit is tussen 06:00 en 08:00 of van 18:00 tot 21:00 wanneer die humiditeit hoog is.
Om die regte oplossing te bepaal, meet sommige boere die plant se °Brix met ‘n refraktometer net voor spuit en weer drie uur en 24 uur na spuit. Die °Brix kan met tot 3 eenhede verhoog.
°Brix meet die brekingsindeks (‘refractive index’) in die plantsap - ‘n aanduiding van suiker, mineraal en proteïen inhoud . Dit kan aandui dat ‘n plant soeter is, meer voedingstowwe bevat, ‘n laer water- en stikstof inhoud het en beter weerstand het teen insekskade. Bob Cantisano van Organic Ag Advisors het die volgende tipiese kwaliteit-metings van ‘n paar gewasse verskaf: Tamaties - swak = 4 °Brix, uitstekend = 12 °Brix; Groenbone - swak = 4 °Brix, uitstekend = 10 °Brix; Beet - swak = 2 °Brix, uitstekend = 12 °Brix
Kleinboere of balkon-tuiniers kan self blaarvoeding maak deur lusernpille (of konynpille of lusernmeel) te gebruik. Voeg twee koppies van die pille in 1 liter water en laat staan oornag. Voeg die aftreksel by 10 liter water en spuit beide die onderkant en bokant van plante. Daar kan ook 'n 1% oplossing van EM (effektiewe mikro-organismes) of erdwurmkompostee gebruik word as blaarvoeding.

By Marinda Louw