Waatlemoen Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Waatlemoen plant voort met die saai van saad. Saad kan direk in die land of saadkassies gesaai word. Die saailinge kan dan later uitgeplant word.

Hoe om te Plant

Waatlemoen saad moet 30 – 40 cm diep geplant word. Dit kan met die hand of meganies gedoen word. Die grond moet voor planttyd nat wees en direk na die saad of saailinge geplant is weer natgemaak word.

Spasiëring

Waatlemoen plante moet 50 – 75 cm uitmekaar in rye wat 150 – 200 cm van mekaar af is geplant word. Afhangende van die variëteit, grootte en gebruik van die waatlemoene is dit ongeveer 8 000 tot 15 000 plante per hektaar.

Saai en Planttyd

Waatlemoen saad word gewoonlik in Suid-Afrika in die begin van die lente vanaf laat Augustus tot Desember geplant. Die eerste aanplantings word gedoen as die klimaat warmer is en die grondtemperatuur bo 15°C is.

Indien die grondtemperatuur laer is sal ongelyke ontkieming plaasvind wat oneweredige groei tot gevolg het en in sommige gevalle sal die sade selfs nie ontkiem nie.

Om produksie vir die vroeë mark te bespoedig, sal sommige produsente in Julie saailinge in kweekhuise maak en sodra toestande ideaal is die saailinge uitplant. Dit kan hulle ’n voorsprong van twee tot drie weke voor die ander produsente, wat direk in die lande saai, gee.

Groeiperiode

Afhangende van die kultivar en die weerstoestande is die groeiperiode tussen 12 en 18 weke. Kleiner en saadlose waatlemoen variëteite word vinniger ryp en is gewild vir die vroeë mark.

Bemesting

Bemesting moet ooreenkomstig die aanbevelings van die grondanalise en die vereistes van die gewas gedoen word. Hieronder volg ’n aanduiding van wat benodig word vir ’n waatlemoen-oes. Sowat 5 weke voor planttyd moet ’n groen dekgewas en kompos saam met 350 kg superfosfaat per hektaar in die boonste 500 mm grond ingeploeg word.

’n Paar dae voor planttyd, as die finale grondbewerking plaasvind, moet daar met ’n skotteleg sowat 800 kg 2: 3: 4 (27) mengsel per hektaar in die boonste 20 cm grond ingeploeg word. Sodra die plante gevestig is, ongeveer drie tot vier weke na planttyd, moet 300 - 400 kg 1: 0: 1 (36), ’n mengsel van stikstof (N) en kalium (K), langs die plantry toegedien word en daarna natgemaak word.

Om te help met die ontwikkeling van die vrugte en rypwording kan ’n verdere 300 - 400 kg 1: 0: 1 (36) omtrent drie weke daarna toegedien word. Onthou om onmiddellik na enige kunsmis toediening nat te gooi.

Besproeiing

Voor planttyd moet die grond deeglik natgemaak word. Handhaaf die besproeiing sodat die nuwe saailinge vinnig wortels kan ontwikkel en die voedingstowwe wat voor planttyd ingewerk is, kan opneem. Die grondvog moet gereeld gemonitor word. Dit kan met ’n graaf of geïnstalleerde vogmeters gedoen word.

Die gemiddelde weeklikse besproeiing is tussen 30 en 35 mm. Dit word gewoonlik in twee of selfs drie besproeiings per week verdeel. Sodra die vrugte ontwikkel en die wortelstelsels groter is kan die besproeiing in swaarder leemgrond tot een keer per week verminder word.

As oestyd naby is moet die besproeiing verminder word. In die laaste week voor die oes kan dit heeltemal gestop word behalwe as die temperature baie hoog en die relatiewe humiditeit laag is.

Translated by Ananda Schoeman