Die Vroeë Bewoners van die Richtersveld

Die Eerste Bewyse

©Shem Compion
Die eerste bewyse van mense in Namakwaland en die Richtersveld word verteenwoordig deur ruwe gereedskap, soos handbyle wat uit klip gemaak is. Hierdie vroeë Steentydperk implemente word met verskeie Homo-spesies, soos Homo habilis, Homo erectus en die argaïese Homo sapiens geassosieer. Hulle het tussen 2.5 miljoen en 200 000 jaar gelede geleef. Tot dusver is geen menslike fossiele in die gebied gevind nie.
Die Middelsteentydperk was vanaf 200 000 tot 35 000 jaar gelede. Hierdie era dui op ’n oorgang van steengereedskap tot vuursteen-gereedskap, ’n meer gesofistikeerde tegnologie waarin rots skerwe van ’n klip afgekap is om vel-skrapers, lemme of pylpunte te maak.
Baie voorbeelde van hierdie kleiner klipgereedskap word in Namakwaland gevind. Verskeie argeologiese terreine in die Richtersveld wat ’n groot aantal klip fragmente bevat dui daarop dat hier “fabrieke” was. Die Weskus Nasionale Park, naby Langebaan, bevat ook ’n merkwaardige fossielvoetspoor wat gedurende hierdie era deur een van ons voormalige Homo sapiens voorouers gemaak is.

Bewoning van die Richtersveld

©Shem Compion
Die Laat Steentydperk val saam met die koms van Homo sapiens sapiens, anatomies moderne mense, net soos ek en jy. Die gereedskap wat met hierdie era geassosieer word, is meer verfynd en taak-spesifiek. Dit sluit lemme, boorpunte en pylpunte in. Baie het ’n tipe houthandvatsel gehad om sodoende spiese of messe te vorm. Been en ivoor is ook gebruik om lemme, naalde en selfs vishoeke van te maak.
Verskeie argeologiese terreine in die Richtersveld, wat meer as 3000 jaar terug dateer, bied bewyse van hierdie tegnologie. Verdere bewyse van menslike bewoning wat langs die kus gevind is, is verwerkte dierebene, swartgebrande vuurherde en ’n aantal middens (prehistoriese ashoop) wat menslike afval bevat.
So, volgens die argeologiese bewyse, het nomadiese jagter-versamelaars al meer as 200 000 jaar lank in Namakwaland en die Richtersveld gewoon. Dit kon nie ’n maklike lewe gewees het nie. Water was skaars en daar is bewyse dat volstruiseierdoppe as houers gebruik is. Dit kom voor asof hierdie mense besef het dat hulle oorlewing afhang van ’n volhoubare omgewing.

Translated by Ananda Schoeman