Vredefort Koepel ‘Shattercones’ en Skokmetamorfisme

© David Fleminger

‘n Buitruimtelike Impak

Afgesien van die Vredefort krater, het die kolossale impakgebeurtenis baie ander bewyse nagelaat wat in die rotse verewig is. Hierdie bewyse is ook gevind op dosyne ander impakterreine oor die planeet heen en word nou beskou as die kenmerke van ‘n buiteaardse impakgebeurtenis.

Eerstens is daar ‘n dik laag uitgeskiete materiaal wat in ‘n swaar reën uitgesak het oor ‘n radius van etlike honder kilometer. Hierdie deurmekaar laag rotse en skrapnel is die dikste in die middel van die koepelarea, en dun uit ‘n soos mens wegbeweeg van die kern af.

Die volgende duidelike aanduiding van die geweldige magte wat betrokke is, is veranderinge in die rotse self. Wanneer ‘n bolide tref, kan dit temperature van oor die 10 000 grade Celsius opwek en honderde gigapascal druk uitoefen. Hierdie enorme hoeveelheid energie en hitte veroorsaak dat die omringende rotse in nuwe vorme verander. Hierdie proses staan bekend as ‘skok metamorfisme’. Een van die opvallendste metamorfistiese kenmerke is ‘shattercones’.

‘n ‘Shattercone’

‘n ‘Shattercone’ is nie wat jy kry as jy jou roomyshoringkie laat val nie. Dit is ‘n kenmerkende breek-patroon wat deur rotse versprei soos die skokgolf deurbeweeg. Die gevolg is ‘n herhalende driehoekformasie, afkomstig van dieselfde punt.

Hierdie ‘shattercones’ lê ontbloot op ‘n aantal plekke in die Vredefort Koepel en daar word vertel dat jy die bolide se “pad” na die aarde kan uitwerk as jy hulle almal in lyn kan plaas. Ongelukkig is moderne besoekers besig om ‘shattercones’s aandenkings af te breek. Dit is ‘n betreurenswaardige gewoonte wat onmiddellik gestaak moet word en beskerming van die ‘shattercones’ sal een van die verantwoordelikhede van die nuwe ‘Dome Management Authority‘ wees.

Metamorfose van die rotse

Nog ‘n prominente kenmerk van die Vredefort rotse is die donkergekleurde are wat deur die ligter graniet loop. Hulle varieer in lengte en dikte, maar sommige is aansienlik. Hierdie tipe glasagtige, donker rots word genoem ‘pseudotachylite’ en word gevorm wanneer geweldige hoë temperature veroorsaak dat rots smelt en van chemiese samestelling verander. Soortgelyke ‘tachelyte’ rotse word gevind rondom vulkane en foutlyne (wanneer wrywing tussen die tektoniese plate veroorsaak dat hitte vrygestel word). Die term ‘pseudo’ word gebruik wanneer daar geen bewyse van vulkaniese aktiwiteit bestaan nie.

Die ongelooflike temperatuur en druk wat vrygestel word weens die impak, het nog ‘n grootskaalse metamorfose van die rotse, genaamd ‘granophyre’ veroorsaak. Dit is ‘n donker matriks van fyn rotspartikels wat in frakture versamel het en groot, smal slote van gesmelte rots gevorm het wat oor etlike kilometer gestrek het. Radiometriese datering van sirkoonpartikels in hierdie impak-vervormde rotse het geoloë gehelp om aan die Vredefort-gebeurtenis ‘n spesifieke datum te gee: 2.023 biljoen jaar.

Skok-deformasie Kenmerke

Onder die ander belangrike skok-deformasie eienskappe wat algemeen aangetref word op baie impakterreine, is ‘coesite’ en ‘stishovite’. Dis die indrukwekkende name wat gegee is aan twee ultra-digte vorme van kwarts (‘n algemene mineraal in rotse). Hulle ontstaan wanneer kwarts saamgepers en so hoog verhit word dat die kristaltraliewerk verander. Tekens van beide minerale word gereeld gevind in impakkraters en rondom atoombom toetsterreine. Die generiese term vir hierdie soort deformasie is ‘geskokte kwarts’.

Impakdiamante

Een interessante skokdeformasie wat nie by Vredefort gevind word nie, is ‘impakdiamante’. Hierdie klein sferiese edelstene, ‘n fraksie van ‘n milimeter in deursnee, word gevorm wanneer ‘n meteoriet ‘n koolstofryke rots tref. Die hitte van die impak reageer met die koolstof en vorm miljoene piepklein diamantjies. Die Popigai krater in Siberië bevat miljoene tonne impakdiamantjies, maar niemand het nog ‘n nut vir hulle uitgedink nie.

‘n Kombinasie van shattercones, pseudotachylite, skok-kwarts en al die ander skokmetamorfises is gevind by Vredefort en baie ander impakkraters. Tesame word hulle beskou as die kentekens van ‘n impakgebeurtenis en is gebruik om dosyne vroeër onbekende impakterreine op die planeet te identifiseer.

Translated by Elna Van Rhyn