Voor die Vredefort-Impak

© David Fleminger

Die Geologiese Verloop

Meer as honderd miljoen jare het die Aarde begin afkoel en die hemelse bombardement het waarskynlik opgehou omdat baie van die sonnestelsel se boliede reeds iewers neergestort het. Waterverdamping, koolstofdioksied en ander gasse het uit die aarde se stomende krake ontsnap en dit het die atmosfeer begin vorm. Reën het begin val en die water het op die rotsagtige kors begin opdam om die oseane te vorm. Oppervlakwater was minstens 3.9 miljard jaar gelede teenwoordig.

Die Argeïese Eon

Dit was die begin van die Argeïese Eon (wat antiek beteken) en dit het tot ongeveer 2.5 miljard jaar gelede geduur. Gedurende hierdie tyd is die sogenaamde graniet-groensteen rotslae, wat die basis van alle daaropvolgende geologiese aktiwiteite was, gevorm. Die bes bewaarde voorbeeld van hierdie Argeïese Eon se aardkors word in Mpumalanga, by die dorpie Barberton gevind. Ou graniet-groensteen lae is aan die oppervlak blootgestel. Hierdie vulkaniese gesteentes, genaamd komatiites, is tussen 3.6 en 3.2 miljard jaar oud en het op die seebodem ontstaan. Die samestelling dui daarop dat dit gedurende ’n tyd gevorm is toe die temperatuur in die mantel aansienlik hoër was as wat dit vandag is, wat aantoon dat die Aarde in die millennia daarna afgekoel het.
Soos die kors al hoe meer solied geword het, het silika-ryk materiaal (wat minder dig is as die gesmelte massa) opgestyg en op die mantel versamel. Aangesien dit “ligter” was as beide die mantel en die seebodem het hierdie silika-ryke gesteentes nie saamgebind nie. Dit het op die oppervlak gedryf en uiteindelik dig genoeg geword om na die watervlak te styg as eilande.

Kratons

Mettertyd het die nuutgevormde eilande voortgegaan om bo-op die tektoniese plate te dryf. Dit het teen mekaar gestamp en afgebreek totdat daar land op verskillende plekke op die Aarde gevorm is. Hierdie samesmeltings word mikro-kontinente genoem. Terselfdertyd is die rotse wat bo die waterlyn blootgestel was aan die wind en water geërodeer. Hierdie rots fragmente is tussen die land en die oseaan as gruis, sandsteen en moddersteen gedeponeer. Die eerste kontinent is gevorm.
Hierdie vroeë kontinente het al groter geword en omdat dit minder dig as die seebodem was, was dit baie moeilik om te subduseer. Sommige dele van die kontinentale kors het dus vir min of meer die volgende 3 biljoen jaar bestaan. Dit mag verskeie kere opgebreek het en weer bymekaargekom het, maar dit is nie vernietig of herwin nie. Vandag noem ons hierdie antieke, stabiele dele aardkors kratons.

Die Kaapvaal-Kraton

Een van die oudste kratons op die planeet is die Kaapvaal-kraton, wat steeds in die hart van Suider-Afrika lê. Die oorspronklike grootte van hierdie kraton is onbekend, maar navorsing het getoon dat hierdie antieke kontinent uit die oostelike deel van Suid-Afrika, die westelike deel van Australië, Indië en Madagaskar bestaan het. Deur die jare het nuwer rotslae op die kraton se graniet-groensteen basis saam met ’n indrukwekkende hoeveelheid waardevolle minerale gevorm. Die Kaapvaal-kraton is ook die episentrum van die Vredefort Impak.
Die eerste laag nuwe rotse wat op die Kaapvaal-kraton gevorm is, word die Dominion-groep genoem. Dit bestaan uit ’n dun laag sedimentêre gesteentes met ’n dikker laag stollingsgesteentes bo-op. Sedimentêre of afsettingsgesteentes word geskep wanneer fragmente van geërodeerde rotse na ’n nuwe plek verskuif en geleidelik verander. Dit geskied deur middel van ’n proses wat erosie, verskuiwing, kompaktering en sementering behels. Stollingsgesteentes, aan die ander kant, word deur vulkaniese aktiwiteit in die boonste mantel en aardkors geskep as magma deur die krake in die kors vloei, afkoel en dan stol. Vulkaniese uitbarstings bo die Aarde se oppervlak kan ook stollingsgesteentes vorm.

Translated by Ananda Schoeman