Voerprogramme vir Melkbokke

© Susan Schoenian University of Maryland Extension
Voordat jy melkbokke aankoop om ‘n melkbokboerdery te begin, is dit belangrik om hulle voerprogram te beplan. ‘n Melkbokboerdery kan op ekstensiewe (natuurlike weiding, veld) of intensiewe voer en behuisingstoestande bedryf word.

Ekstensiewe Voerprogramme vir Bokke

Bokke is sowel gras-as blaarvreters en is daarom in staat om sowel grasse as bosse te benut. In ‘n ekstensiewe sisteem sal die hoeveelheid en kwaliteit van die natuurlike weiding die melkproduksie van ‘n bok bepaal. Die melklewering van bokke op natuurlike weiding is gewoonlik laag en onreëlmatig en laktasieperiodes is ook kort.
In kommunale areas wei bokke gewoonlik gedurende die dag buite op natuurlike bosse, grasse en oesreste. Snags mag hulle in ‘n kraal slaap waar hulle aanvullende voer soos hooi, strooi en konsentrate mag kry.

Bokke in Intensiewe Voersisteme

©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Onder intensiewe toestande kan melkbokke aangehou word op aangeplante weiding of in ‘n behuisingsisteem of oop kampe. Aangeplante weiding vereis besproeiing omdat die natuurlike reënval in Suid-Afrika nie genoeg is om ‘n deur-die-jaar-weiding-gebaseerde sisteem te verseker nie. As oop kampies gebruik word, moet bokke skuiling hê teen hitte en reën.
Voertrôe moet groot genoeg wees (0.3 – 0.5 m per bok) sodat alle bokke vrye toegang tot voer het. Om te bespaar op voerkoste moet self-geproduseerde voer in diëte ingesluit word.

Konsentrate om Melklewering te Verbeter

Konsentrate word gebruik om die voedingsgehalte van weiding aan te vul en daardeur die melklewering deur die bokke te verbeter. Die energie en proteïeninhoud van die konsentrate word bepaal deur die weidingkwaliteit en melkleweringsvlakke, stadiums van laktasie en die ouderdom van bokke. Energie en proteïenbehoeftes is gewoonlik hoër tydens vroeë laktasie wanneer melklewering hoog is en laer teen die einde van die laktasieperiode.
Konsentrate van voermaatskappye is oor die algemeen duur. Die hoeveelheid wat gevoer word, word bepaal deur die melklewering van die bokke. Om groot hoeveelhede konsentrate te voer mag onekonomies wees en mag ook rumenprobleme tot gevolg hê omdat bokke herkouers is en slegs minimum hoeveelhede voer in die dieet benodig.
Dis moontlik om gekonsentreerde voer (mielies, proteïenebronne, minerale) aan te skaf om jou eie plaasrantsoene saam te stel en te meng. Dis egter belangrik dat ‘n gekwalifiseerde en kundige voedingskundige die mengsels formuleer. Vir klein bokboere is dit dikwels makliker om ‘n standaard suiwelmeel van ‘n voermaatskappy te koop, as om dit self te meng.

Die Melksiklus van Bokke

Melkproduksie begin nadat die ooi gelam het, en afhangende van die genetiese meriete en voedingsvlak van die bok, mag laktasie van 240 tot 300 dae duur. Onder ekstensiewe toestande mag inheemse bokooie korter laktasiesiklusse hê (150 – 180 dae), gewoonlik weens swak genetiese meriete en swak voeding.
Goeie kwaliteit voer soos lusernhooi (ryk aan proteïene) behoort aan lakterende bokke gevoer te word, en minstens 40% - 60% van die daaglikse voerinname te wees. Die hoeveelheid konsentraat sal bepaal word deur die melklewering van die bokke. ‘n Hoog-produserende bok wat 4 - 5 liter per dag lewer, benodig ten minste 3 - 4kg voer. Hiervan kan 40% - 60% ‘n konsentraatmengsel, m.a.w., 1.2 tot 1.6 kg tot 1.6 tot 2.4 kg per bok per dag. Melkbokke wat minder melk lewer, kan kleiner hoeveelhede konsentraat gevoer word.

Die Voer van Droë Melkbokke

Droë melkbokke benodig slegs goeie kwaliteit ruvoer. Dit kan lusern of hawerhooi wees. As bokke te maer is in die laaste maand van dragtigheid, kan ‘n klein hoeveelheid, omtrent 0.5 kg/dag konsentraat by hul dieet ingesluit word. Dit is egter beter dat bokke kondisie optel gedurende die tweede helfte van laktasie, eerder as om dit te probeer regkry gedurende die droë tydperk.
As daar nie genoeg energie in die dieet is tydens laat dragtigheid en met lamtyd nie, sal vetreserwes gemobiliseer word. As die eise hoog is weens meerling-fetusse, sal die ooi se lewer ingee en sy mag ‘n toestand bekend as ketose (dragtigheidsvergiftiging) ontwikkel wat onmiddellike behandeling vereis.
Let asseblief daarop dat inligting slegs vir opvoedkundige - en inligtingsdoeleindes is en nie beskou moet word as voer - of voedingsadvies nie. Vir meer inligting oor hoe om jou diere te voer, skakel jou diergesondheidstegnikus, veearts of dierevoerverskaffer.

Translated by Elna Van Rhyn