Velprobleme by Varke - Eksterne Parasiete

© National Pork Board, USA
Sommige van die uitwendige parasiete wat vel irritasie en produksieverlies by varke veroorsaak is myte, varkluise, bosluise en vlieë.

Skurfsiekte

Skurfsiekte word deur die kleinerig Sarcoptes suum myt, wat in varke se vel voorkom, veroorsaak. Die myte voed op die vel, bloed en serum van die varke en lê hulle eiers onder die vel. Hulle is ongelooflik klein en daar moet ’n monster geneem word om hulle met behulp van ’n mikroskoop te identifiseer.
Volgens Danie Visser se Modern Pig Production handleiding is ’n erge gejeuk, met varke wat hulleself teen voorwerpe vryf op soek na verligting, gewoonlik die eerste teken dat daar iets verkeerd is. Sere, korse en kaal kolle sal soos die toestand vorder verskyn. Gewoonlik eers aan die binnekant van die oor en geleidelik die res van die liggaam. Die vark se pels sal ook dof lyk en lyne wat soos ribbes lyk sal op die lyf voorkom. Geaffekteerde varke sal swak groei aangesien hulle besiger sal wees om hulleself te krap as om te eet. Die kondisie kan tot sekondêre infeksies lei asook die besmetting van karkasse by die abattoir.
Behandeling
Verskeie dipstowwe, spuitmiddels en inentings kan verkry word om die myte uit te roei. Vra jou veearts of dieregesondheid tegnikus om ’n produk aan te beveel en jou te help om ’n voorkomingsprogram te ontwikkel. Deur volwasse varke gereeld te behandel sal die baba varkies ook beskerm word. Volgens die Pigs for Profit handleiding is daar mense wat ou motorolie gebruik om skurfsiekte te behandel. Behalwe dat dit nie ’n kuur is vir skurfsiekte nie, kan dit ook die vark se vel beskadig.

Varkluis

Die varkluis, Haematopinus suis, bly op die vark se vel en word gewoonlik in die vel voue rondom die nek, skouers, lies en maag aangetref. Hulle tas nie mense of ander diere aan nie. Volwasse varkluise kan 4 mm - 6 mm groot word en kan dus maklik met die blote oog geïdentifiseer word. Die luise tesame met die massas eiers lyk soos ’n geel kors.
Varkluise is bloedsuiers wat ’n erge irritasie veroorsaak. Geaffekteerde varke probeer hulleself teen mure of trôe skuur vir verligting. Soos met skurfsiekte kan dit ’n negatiewe impak op voeding hê wat tot swak groei, sekondêre infeksies en karkas besmetting lei. Groot getalle varkluise kan ook bloedarmoede tot gevolg hê.
Behandeling: Verskeie dipstowwe en spuitmiddels kan verkry word om die luise uit te roei. Vra jou veearts of dieregesondheid tegnikus om ’n produk aan te beveel en jou te help om ’n behandelingsprogram te ontwikkel.

Translated by Ananda Schoeman