Hoe om Varke te laat Paar

© Glenneis Kriel

Een van die beste maniere om maksimum varkproduksie te verseker is die gebruik van goeie genetiese materiaal. Probeer dus om die beste varke by gerekende telers of kommersiële boere te koop.

Hoe om Sôe Gereed te Kry vir Paring

Probeer om ‘n sog se kleintjies te speen op ‘n Donderdag. Dit beteken dat jy haar werpsel sal wegneem as hulle tussen vier en ses weke oud is. As haar kleintjies op ‘n Donderdag gespeen word, kan sy in ‘n hok naby die bere geplaas word, hoewel nie in die hok van die bere nie. Goeie vrugbare sôe sal Sondag op hitte kom en gereed wees om by ‘n beer geplaas te word vir paring Paring behoort plaas te vind op Maandag of Dinsdag. As ‘n sog nog nie op hitte is teen die volgende Donderdag nie, moet sy nie gepaar word nie omdat dit ‘n klein werpseltjie tot gevolg mag hê. Laat haar liewer vir nog drie weke wag.

’n Sog moet na die beer se hok geneem word, nie andersom nie. ‘n Sog wat nie heeltemal op hitte is nie, sal nie staan vir ‘n beer nie. Sommige sôe sal staan vir een beer, maar nie vir ‘n ander nie. Om te toets of ‘n sog op hitte is kan daar op haar rug gedruk word en as sy stilstaan en haar rug hol maak, is sy waarskynlik gereed vir paring.

Die Beer en Paring

‘n Beer wat gereed is om te paar sal skuimerige speeksel produseer. Hou altyd ‘n beer in sy hok – bring die sôe na hom toe. As jy hom na ‘n ander hok toe neem, sal hy tyd mors deur eers sy nuwe omgewing te inspekteer.. Deur hom in sy eie hok te hou sal hy vol selfvertroue wees en sommer gou met die takie klaarspeel.

Probeer ten minste twee bere vir paring gebruik, maar met 12 tot 24-uur intervalle.
Wissel hulle af. Gebruik bv. Nommer Een op Maandagmiddag, en Nommer Twee op Dinsdagoggend. Bere werk die beste gedurende die koeler gedeeltes van die dag.

As ‘n trop groot genoeg is om meer as twee bere te hê, beperk elke beer tot ongeveer 16 sôe. ‘n Beer behoort twee tot drie sôe per week te dek met twee dekkings per sog. Probeer om ‘n beer elke ses maande te vervang om inteling te voorkom. Uitstekende rekordhouding is belangrik sodat jy presies weet watter beer het watter sog gedek.
Moenie ‘n beer pla terwyl hy paar nie. Hy het ten minste vyf minute en moontlik tot 15 minute nodig om die vrystelling van sy sperm te voltooi. Hy stel ongeveer 200ml semen vry met elke dekking. As die sog klaar gedek is, haal haar uit die beer se hok totdat dit tyd is vir die volgede dekking, maar hou haar naby die beer in haar eie hok. Versteurde paring mag lei tot klein werpsels.
As ‘n beer nie paar nie, kan dit toegeskryf word aan ‘n aantal faktore: hy het pyn (voete, bene, rug), hy het ‘n lae libido (seksuele aptyt), of die sog is dalk nie reg nie.

Translated by Elna Van Rhyn