Uitdagings en Geleenthede vir Byeboere in Suid-Afrika

© Dawid Smit

Probleme met Byeboerdery in Suid-Afrika

Die grootste probleem in Suid-Afrika wat die agterstand veroorsaak, is beperkte nektarbronne. In Suid-Afrika word slegs 15% van die heuning geproduseer van inheemse flora vergeleke met ongeveer 70% in Australië. Tradisioneel is nagenoeg 70% plaaslike heuning van bloekombome afkomstig. Hierdie spesies verkeer egter onder geweldige druk omdat ‘n regeringsinisiatief, Work For Water, tans besig is om hierdie bome tesame met ander indringerplante by riviere en in ander opvangsgebiede uit te roei.
Negatiewe publisiteit het ook grondeienaars beïnvloed om bloekombome voor die voet uit te roei. Dit is nie ekonomies haalbaar om ‘n enkele gewas of plant aan te plant eksklusief vir nektarproduksie nie. Bloekombome word geplant vir papierproduksie en hout, terwyl sonneblomme en Canola geplant word vir huishoudelike olieproduksie. Vrugteboerderye benodig wel bye vir bestuiwing, maar die heuningproduksie uit hierdie bron is uiters beperk.
Byeboerdery in Suid-Afrika word grootliks gedryf deur vryskut (informele) byeboere, waarskynlik 1000. Hiervan is minder as 50 groot byeboerderye - kommersiële boere met 1000 swerms of meer. Nuwe toetreders tot byeboerdery in Suid-Afrika word hoofsaaklik teruggehou deur die beperkte nektarbronne. In die vroeë 2000’s is daar beweer dat Suid-Afrika se heuningproduksie opgestoot kan word tot by 50 000 ton, wat ietwat vergesog is en baie krities evalueer behoort te word.
Daar is egter wel ruimte vir verbetering wat betref die bestuur van bykolonies. Nes met enige ander boerderyaktiwiteit, word konstante toewyding vereis. Om aan te neem dat die natuur sy loop sal neem, kan fatale nagevolge vir swerms bye hê.

Geleenthede vir Byeboerdery in Suid-Afrika

Ten spyte van bogenoemde probleme, is daar steeds groot potensiaal in die Suid-Afrrikaanse byeboerderybedryf. Bestuiwingsinkomste oortref tans inkomste uit heuningproduksie. In die afgelope dekade het die aanvraag na bestuiwingsdienste met tussen 10% en 15% per jaar toegeneem. Daar is aanduidings van aansienlike uitbreiding in die makadamianeutbedryf, veral in die subtropies gebiede van Suid-Afrika soos die Limpopo en Mpumalanga provinsies.
Projeksies vir die aanplant van 6 000 ha bosbessies is ook in die pyplyn. Dit sal vanaf 2017 oor 7 jaar gedoen word, hoofsaaklik in die Wes-Kaap. Tussen 30 000 en 40 000 nuwe swerms bye sal nodig wees slegs om hierdie bosbessies te bestuif. Byeboere kan hulself dus gereedmaak vir aansienlike uitbreiding. Aanpassings aan die bestuiwingstariewe sal ‘n meer volhoubare inkomste verseker en dien as aansporing vir nuwe toetreders tot die bedryf.
Aangesien Suid-Afrika verskil van ander lande, sal die byebedryf moet aanpas by plaaslike omstandighede. Entrepreneuriese inisiatiewe met betrekking tot die ontwerp van nuwe sisteme en bestuurspraktyke sal ‘n kritieke faktor wees. Vandalisme van korwe is steeds ‘n probleem en diefstal sal beperk moet word. Ander aspekte wat aandag kort, is die voeding van bye, oorwintering en die teel van koninginne.

Navorsing oor Byeboerdery in Suid-Afrika

Navorsing oor die byeboerderybedryf is ook nie wat dit moet wees nie. Tans is daar slegs een navorser in diens van die Landbou Navorsingsraad. Die Universiteit van Pretoria is egter betrokke by navorsing oor bye. Aangesien die byeboerderybedryf klein en gesegmenteerd is, is navorsingsbefondsing nie geredelik beskikbaar nie. Die regering se bydrae is ook niksbeduidend. Betrokkenheid van ander industrieë soos die sagtevugtebedryf, subtropiese vrugtebedryf en saadbedrywe sal nodig wees indien deurlopende bestuiwingsdienste deur byeboere verlang gaan word.

Translated by Elna Van Rhyn