Tiemie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Thymus
Vulgaris Algemene naam: Tiemie

Tiemie is inheems aan dele van Asië, Suid-Europa en Mediterreense Noord-Afrika.

Plantbeskrywing

Tiemie is 'n geharde, meerjarige plant wat ongeveer 350 mm hoog groei. Die plant maak verskeie houtagtige sytakke om 'n bossie te vorm. Die blare is 'n donder groengrys, klein en ovaalvorming, en effens wollerig. Die blomme wat aan die punte van die takke in trossies vorm, is 'n ligpers kleur.

Gebruike

Tiemie word vars en droog in die kombuis as 'n geurmiddel gebruik. Dit word ook gekweek vir die vervaardiging van essensiële olie. Elke kilogram vars tiemie wat deur die distillasieproses gaan, lewer ongeveer 8-10 ml essensiële olie. Die essensiële olie word medisinaal aangewend as 'n geneesmiddel vir 'n seer keel, en ook om bloeddruk en cholesterol te help beheer.

Grondvereistes en Voorbereiding

Tiemieplante verkies goed gedreineerde, growwe, sanderige grond met 'n pH-vlak tussen 6 en 7.5. Voor enige grondvoorbereiding gedoen word, moet 'n verteenwoordigende grondmonster geneem en na 'n laboratorium gestuur word vir analise en voedingstof aanbevelings. Tiemie het 'n relatiewe vlak wortelstelsel en die wortels groei selde dieper as 400 mm. Die grond moet geploeg word om die grondprofiel tot ongeveer 400 mm los te maak en so goeie dreinering te verseker.
Voeg kalk by indien die grond te suur is om pH-vlakke reg te stel, en dien mis of kompos toe. Ploeg die boonste 300 mm grond ongeveer vier tot vyf weke voor aanplanting. Voeg spoorelemente en 'n gebalanseerde voorbereidende kunsmis by die grond in die dae voor aanplanting, en werk dit met 'n skotteleg in die boonste 200 mm van die grond in. Dit sal ook van enige onkruid ontslae raak. Installeer besproeiing en plant die tiemie saailinge.

Klimaat

Tiemie is 'n geharde semi-immergroen plant wat in warm, droë Mediterreense klimate groei en in temperature tussen 20°C en 30°C gedy. Wanneer dit gevestig is, is dit gehard teen ryp. Grondtemperature moet bo 16°C wees om goeie ontkieming te verseker. Tiemie kan in klimate gekweek word waar daar ten minste 500 mm reën deur die loop van 'n jaar val.

Kultivars

Daar word hoofsaaklik drie tipes tiemie kommersieël geproduseer: Citriodorus, Zygis en Varico. Gewone tiemie word hoofsaaklik in die kombuis gebruik. Citriodorus het 'n sterk sitrusreuk en Zygis word meestal vir die vervaardiging van essensiële olie gebruik. Varico word ook vir olie gebruik, en produseer 'n baie hoë kwaliteit.
Daar is meer as 200 variëteite, daarom is dit 'n goeie idee om raad van die plaaslike voorligtingsbeampte en saadspesialiste te kry oor die beste variëteit vir die produksiearea en die teikenmark.

Translated by Rentia Pretorius