Sybokhaar in Suid-Afrika

©Justin Fox
Die klein Angorabokkie kom oorspronklik uit die Midde-Oostelike streek van Turkye. Die eerste bokke, een ooi en 12 ramme, is in Suid-Afrika ingevoer in 1838, maar daar is bevind dat al die ramme steriel was. Gelukkig was die ooi dragtig met ‘n ramlam. Nog diere is tussen 1857 en 1868 na Suid-Afrika ingevoer totdat die sultan van Turkye die uitvoere verbied het. Die Angorabok telersvereninging is in 1892 gestig en staan vandag bekend as die Angora Ramtelers.
Sybokhaar word op ongeveer 1000 Angorabokplase in Suid-Afrika geproduseer. Daar is ongeveer 700 plase wat groot genoeg is om as ‘kommersiële’ produsente bekend te staan, terwyl die oorblywende 300 kleiner produsente is. Sodra die sybokhaar afgeskeer is, word dit na Nelson Mandelabaai geneem deur die makelaars wat dit daar op veilings verkoop.
Sybokhaar van oral in Suid-Afrika word na Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth area in die Oos-Kaap provinsie) geneem waar dit geprosesseer word. Port Elizabeth hawe is die enigste hawe wat sybokhaar vanuit Suid-Afrika uitvoer.

Tekstiele van Bokke

©Marinda Louw
Angorabokke in Suid-Afrika word geteel om sybokhaar te produseer. Sybokhaar is ‘n sterk elastiese vesel wat warm, lig en duursaam is en kan maklik gekleur word. Dit word hoofsaaklik gebruik in die tekstielindustrie vir klere, breistof (hand - en masjienbrei), gordynstof, materiaal vir bekleedsel en komberse. Sybokhaar is anders as wol omdat dit ‘n baie gladder oppervlak het met ‘n baie dun, gladde skub.
‘n Angorabok kan tot 5kg haar produseer en moet tweekeer per jaar geskeer word as dit groei teen 12-15cm elke ses maande. Angora haar moet eenvormig wees ten opsigte van lengte en fynheid, dit moet mooi blink wees en goeie karakter toon en vry wees van gekleurde en steekhaarwol. (Steekhaarwol is wit, bros en swak en dikwels gemeng met die normale haar van ‘n bok). Kwaliteit sybokhaar kom in twee basiese style – spiraalvormig en plat, golwende lokke – en word tipies verkoop in drie grade: fyn, medium en sterk. Die graad word grootliks bepaal deur die ouderdom van die bok.

©Marinda Louw
Kasjmier, afkomstig van die sagte onderlaag van ‘n bok se haarbedekking, word op klein skaal produseer deur iMbuzi bokke naby Butterworth in die Oos-Kaap. Die meeste inheemse bokke produseer kasjmier tussen hulle hare in die winter om hulle te beskerm. In die somer verhaar hulle hierdie wollerige kasjmier. Sybokhaarproduksie word dikwels gekombineer met die produksie van bokvleis om kontantvloei regdeur die jaar te verseker. Vleiskwaliteit van jong bokke is goed, maar die karkasse is kleiner as dié van skape wat op ‘n soortgelyke wyse gevoer is.

Translated by Elna Van Rhyn