Soorte Voer vir Bokke

©Marinda Louw
Voer vir bokke word tradisioneel in drie kategorieë ingedeel word:
Ruvoer – voere wat baie ruvesel bevat, lae verteerbaarheid, goedkoper as ander voere. Ruvoer bevat baie vesel, soos gras, hooi, lusern, aangeplante weiding, blare, oesreste.
Konsentrate – voedingstowwe is meer gekonsentreerd as in ruvoer en dis gewoonlik duurder.
Byvoeding – bestaan uit vitamines of minerale; word gewoonlik in klein hoeveelhede by die hoofvoerbestanddele bygevoeg om seker te maak dat alle noodsaaklike voedingstowwe voorsien word.

Ruvoer vir Bokke

©Arthur Chapman
Ruvoer is enige voerbestanddeel met ‘n hoë veselvlak wat stadig afbreek. Die beste ruvoer het lang, growwe vesels soos katoensaad, sojaboon en hawerdoppe, enige soort hooi en vars weiding. (Voerkorrels bevat vesel, maar nie ruvesel nie). Graangebaseerde voer bevat minder ruvesel as weiding of aangeplante weiding wat 100% ruvoer is. ‘n Bok is min of meer soos ‘n klein melkkoeitjie, ‘n herkouer wat genoeg ruvoer in sy dieet moet hê sodat hy kan herkou.
Ruvoere moet die basis vorm van die voedingsprogram van bokke. Sonder ruvoer sal die bokke dodgaan. Melkbokke het vesel nodig vir goeie rumen aksie en normale melkvetvlakke. As ‘n bok se ruvoerinname beperk word, sal haar melkproduksie ingekort word.
As daar genoeg ruvoer van goeie gehalte is, is dit selfs moontlik dat sommige soorte bokke al die voedingstowwe wat hulle nodig het daardeur kan inkry, afgesien van ‘n paar vitamienes en minerale. Die goedkoopste is om self ruvoer te produseer, veral as vervoerkoste hoog is. ‘n Mens spaar geld, maar is terselfdertyd ook gerus oor die kwaliteit en die beskikbaarheid van die voer. Dis ook raadsaam om ‘n vooraad ruvoer op te berg (soos hooi of kuilvoer) vir tye van droogte.
As voorbeeld kan jy dalk aangeplante Rhodesgras kweek vir die somer en hawer plant om te sny of te laat bewei in die winter. Beide verskaf massa en ‘n sekere hoeveelheid energie, maar bevat min proteïene, veral wanneer die plante begin ryp word. Lusern, swartbekboontjies en ander peulplante is uitstekende bronne van goeie kwaliteit proteïene.

Konsentraatvoer vir Bokke

©Thamizhpparithi Maari
Konsentrate is voedselbronne wat bygevoeg mag word by ‘n basiese dieet van ruvoer. As die ruvoer van ‘n goeie kwaliteit is en lekker smaak, sal minder konsentraat nodig wees as wanneer die ruvoer van ‘n swak gehalte is en sleg smaak.
Die bok kan self sy voedingstofvooraad aanvul deur meer ruvoer te vreet en gestoorde liggaamsreserwes (vet) op te gebruik, maar as ‘n bok melk produseer of nog groei, is ‘n meer gekonsentreerde vorm van voer nodig. Konsentrate kan verdeel word in twee breë kategorieë:
Bronne van energie – mielies en ander grane
Bronne van proteïene – vismeel, sojaboon oiliekoekmeel, sonneblom oliekoekmeel, grondboontjie oliekoekmeel, katoensaad oliekoekmeel, ens.

Gewoonlik word hierdie bestanddele vermeng om die vereiste balans aan voedingstowwe te verskaf. Konsentrate is duur, so hulle moet oordeelkundig gebruik word om nie geld te mors nie.
Konsentrate word gewoonlik gekoop by ‘n voerverskaffer, maar kan ook tuisgemaak word deur die boer self. Dit is belangrik dat ‘n voedingskundige die mengsel formuleer en dit moet ook ‘n vitamien/mineraal mengsel insluit om die noodsaaklike voedingstowwe te verskaf. Dis egter dikwels die eenvoudigste om ‘n standaard suiwelmeel te koop in stede daarvan om spesiaal een te meng.

Volledige Voere vir Bokke

Dit is moontlik om volledige voere, wat al die nodige voerbestanddele bevat, aan melkbokke te verskaf. Dit sluit in ruvesel, konsentrate, vitamienes en minerale. Dit word ook genoem “Total Mixed Rations” (TMR). Volledige voere behoort vrylik beskikbaar te wees sodat die bokke soveel daarvan kan vreet as hulle wil. Nogtans sal hoog-produserende melbokke (+4 liter melk/dag) waarskynlik ekstra energie nodig hê.

Volledige voere mag ‘n oplossing wees vir boere wat dit self kan produseer teen ‘n ekonomiese prys, veral die boere wat nie weiding vir ruvoer het nie. Een praktiese probleem met bokke is dat hulle maklik net die meer smaaklike bestanddele van die TMR uitsoek en vreet en dan nie ‘n gebalanseerde dieet kry nie, of nie genoeg ruvesel inkry nie. Dan loop hulle die gevaar om asidose te ontwikkel. (Asidose ontwikkel as herkouers te veel graan vreet en nie genoeg veselmateriaal inkry nie. Dit veroorsaak gisting en dan gaan staan die rumen).

Translated by Elna Van Rhyn