Skoonmaak van Konynhokke

© Karoline Steenekamp

Konynhokke moet maklik kan skoonmaak en hanteer. Dis die beste om hulle in netjiese rye te rangskik, opmekaar gestapel in ‘n dubbellaag of in ‘n enkele laag. Deure van die hokke moet groot genoeg wees om die konyn maklik uit te haal en om maklike skoonmaak te verseker.
In ‘n enkele laag kan die deur bo-op of aan die voorkant van die hok wees, maar in gestapelde lae moet die deur aan die voorkant wees. Deurknippe moet sterk genoeg wees dat die konyne nie kan uitkom nie. Indien hokke in rye geplaas word, moet die spasies tussen rye wyd genoeg wees sodat daar gemaklik tussen hulle gewerk kan word. ‘n Mens moet ‘n kruiwa tussen die rye kan deurstoot.
Mis is ‘n baie belangrike bestanddeel van konynboerdery afval. Moenie die mis en beddegoed weggooi nie omdat dit waardevolle materiaal is vir die maak van kompos om jou groentetuin mee te bemes. (Sien die afdeling ‘Mis’ vir meer inligting.)
Houtvloere moet beddegoed kry. Dit kan saagsels, strooi of droë gras wees. Gestapelde draadhokke moet ‘n misopvangbak hê tussen die hokke. Dit kan van metaal of swaardiensplastiek wees en onder die boonste laag hokke hang.
Die vloer onder die hokke moet maklik kan skoonmaak. As daar ‘n sandvloer is, moet dit daagliks gevee word terwyl ‘n sementvloer bedek kan word met ‘n laag sand of saagsels wat verwyder en op die komposhoop gegooi kan word.
Dis nie nodig om konyne te verskuif terwyl hokke skoongemaak word nie, omdat hulle nie aanstoot neem as daar in hulle hokke gewerk word nie. Slegs in uitsonderlike gevalle waar ‘n konyn siek was en sy hok met ‘n blaasvlam skoongebrand word, sal dit nodig wees om die konyn te verskuif.

Translated by Elna Van Rhyn