Simbole op Suid-Afrika se Landswapen

Die nuwe Suid-Afrikaanse Landswapen bestaan uit twee dele naamlik die ovaal vorm van die fondasie en die ovaal vorm van die opkoms. Die onderstaande is ’n verduideliking van die simboliek en vertel die storie van Suid-Afrika se demokrasiewording.

Die Ovaal Vorm van die Fondasie

Die leuse - Die leuse, !ke e: /xarra //ke, is in die Khoisan taal van die /Xam bevolking geskryf en beteken “Diverse mense verenig”. Op ’n individuele skaal beteken dit eenheid van jou gedagtes en dade. Op ’n kollektiewe skaal dui dit daarop dat ons as ’n nasie met ’n gevoel van samehorigheid en nasionale trots verenig moet word.
©Jacques Marais
Die olifanttande - Olifante is bekend daarvoor dat hulle krag en wysheid het. In die landswapen verteenwoordig dit standvastigheid en krag.
©Tracey Derrick
Die koringare - Die koringare simboliseer vrugbaarheid. Die ontkieming en groei van die koring simboliseer die groei en ontwikkeling van ons nasie om ons onbeperkte potensiaal te bereik. Dit verwys ook na die voeding van die mense en verteenwoordig dus die landbou aspekte van die grond.
©Roger de la Harpe
Die skild - Die skild het twee funksies. Dit verteenwoordig ons nasie se geestelike verweer en bevat ook die figure wat op ons identiteit dui.
©Roger de la Harpe
Die mensefigure - Hierdie figure is afgelei van die wêreldbekende Suid-Afrikaanse rotskuns beelde wat op die Linton-klip gevind is. Die klip word in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad bewaar. As die oudste bekende inwoners van ons land, die Khoisan, is dit verteenwoordigend van ons gemeenskaplike menslikheid en erfenis as Suid-Afrikaners. Die figure wys na mekaar in begroeting en dit simboliseer eenheid. Dit verteenwoordig ook die individu se begin van transformasie na ’n gevoel van samehorigheid en in ’n groter konteks die kollektiewe mensdom.
©Roger de la Harpe
Die spies en knopkierie - Dit simboliseer verdediging en gesag, en verteenwoordig ook die lang sterk bene van die sekretarisvoël. Die spies en knopkierie wat plat lê simboliseer ook vrede.

Die Ovaal Vorm van Opkoms

©Nigel Dennis
Die protea - Die protea simboliseer die skoonheid van ons land. Die blom verteenwoordig ons potensiaal as ’n nasie in die nastrewing van ’n Afrika-renaissance. Dit simboliseer ook groei vanuit die aarde met sorg van bo af. Die gewildste kleure van Afrika is aan die protea toegeken, naamlik groen, goud, rooi en swart.
©Shem Compion
Die sekretarisvoël - Die sekretarisvoël word in vlug getoon om groei en spoed uit te beeld. Dit is ’n magtige voël waarvan die kragtige bene, wat gebruik word as hy slange loop en soek, deur die knopkierie en spies voorgestel word. Dit simboliseer die nasie se beskerming teen alle vyande. Die voël is ’n boodskapper van die hemel en simboliseer hier ’n goddelike majesteit. Die uitgestrekte vlerke is ’n embleem vir die opkoms van ons nasie en dui ook beskerming aan. Die sekretarisvoël word in goud uitgebeeld wat dit met die son en die hoogste mag assosieer.
©Shem Compion
Die sonopkoms - Die son is ’n embleem van helderheid, prag en energie. Dit simboliseer kennis, goeie oordeel, wilskrag, die vermoë van refleksie en die belofte van wedergeboorte. Dit is die bron van alle lewe en lig en verteenwoordig die uiteindelike heelheid van die mensdom. Al die elemente van die Landswapen kombineer saam om die onderste en boonste ovaal vorms te vorm wat ’n simbool van oneindigheid is. Vanaf die olifanttande tot die opkomende son is die vorm die van ’n kosmiese eier waaruit die sekretarisvoël kom. Simbolies wys dit op die hergeboorte van die groot en dapper Suid-Afrikaanse nasie.Translated by Ananda Schoeman

Nasionale Simbole: Tydlyn

Gewone Suid-Afrikaners het deur openbare konsultasies betrokke geraak by die ontwerp en finalisering van ons nuwe Nasionale Simbole....more

Die nuwe Suid-Afrikaanse Simbole se geskiedenis

Ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het die Nasionale Simbole-kommissie die Suid-Afrikaanse publiek geraadpleeg oor hoe die simbo...more